Rugbyspeler sterf ná duikslag

Argieffoto: pixabay.com

ʼn Ondersoek is van stapel gestuur ná die dood van ʼn 21-jarige klubrugbyspeler van Frankryk wat Vrydagaand gesterf het kort ná ʼn duikslag tydens ʼn vriendskaplike wedstryd.

Le Figaro berig Louis Fajfrowski, ʼn speler vir Aurillac, is in die 60ste minuut van ʼn klubwedstryd teen Rodez op die veld geroep. Ná ʼn harde duikslag het Fajfrowski, vergesel van ʼn dokter, self van die veld af geloop.

Sy klub het later op Twitter aangekondig dat Fajfrowski gesterf het “weens ongemak wat hy in die kleedkamer ervaar het”.

Volgens mediaberigte het hy verskeie kere in die kleedkamer sy bewussyn verloor en begin braak. Hy het hy om 20:00 gesterf ondanks paramedici se pogings om hom by te bring. ʼn Nadoodse ondersoek sal Maandag gedoen word om die oorsaak van sy dood te bepaal.

Die webtuiste Stuff berig Olivier Magne, ʼn Franse rugbyveteraan, het in reaksie op Fajfrowski se dood gesê die rugbywêreld sal moontlik maniere moet oorweeg om dié sport minder gewelddadig te maak. Volgens Stuff het Magne aan ʼn Franse radiostasie gesê hy is platgeslaan deur Fajfrowski se dood.

“Dit is ʼn hele klub, ʼn stad, ʼn departement en Franse rugby in geheel wat geaffekteer word, wat in rou is. Dit is soos ʼn familielid wat weggeneem is. Dit is baie hartseer vir Franse rugby,” het hy gesê.

“Dit is belangrik om vir die uitslae van die nadoodse ondersoek te wag en nie oorhaastig tot ʼn gevolgtrekking te kom nie. Maar daar is oor die algemeen ʼn ontwikkeling in professionele sport. Ons gaan vir meer spoed, meer intensiteit, meer geweld en daar is toenemend meer moeilike duikslae wat vermy kan word.”

Fajfrowski het sedert 2015 vir Aurillac gespeel nadat hy van Montpellier se jeugspan af gekom het. Hy het oor die afgelope twee seisoene 23 keer in die Pro D2 vir Aurillac op die veld gedraf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Realis ·

Kon nog nooit verstaan hoe 30 man vir 80 minute oor 1 bal kan baklei nie. Dit vir geld. Kan nog minder verstaan hoe duisende toeskouers betaal om te gaan kyk hoe daai 30 manne werk nie. Sal hou daarvan as iemand my betaal om te kom kyk hoe ek werk…

VanAfrika ·

Sjoe Realis, maar jy is pessimisties. Dit word genoem, mededingenheid, kompetisie, dryfkrag, wen, kompeteer, dissipline, respek, samesyn, ontspanning, groepsport, interaksie

Johan ·

Ek wonder of die speler die duikslag uitgevoer het en of hy geduik is? Van die berig klink dit nie asof hy ten minste deur ‘n gevaarlike duikslag platgeduik is nie. Nie te min, baie hartseer om te hoor as iemand sport beoefen, net om te sterf agv ongeluk op so ‘n sportveld. Simpatie aan speler se familie in hierdie moeilike tyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.