Rugbyspeler sterf ná hy van brug spring

Kelly Meafua (Foto: Racing Club Narbonnais)

Die Samoaanse flank Kelly Meafua is Vrydagaand dood ná hy tydens ʼn partytjie van ʼn brug in die Tarnrivier gespring het, het sy rugbyklub Montauban Saterdag bevestig.

Die 31-jarige se span het Vrydag ʼn oorwinning van 48-40 gevier oor die Franse klubspan Narbonne.

“Almal by USM is in skok. Almal was dol oor Kelly. Ons het nie net ʼn speler verloor nie, maar ook ʼn vriend en ʼn broer,” het die klub in ʼn verklaring gesê.

Volgens verskeie ooggetuies het hy Montauban se laaste tuiswedstryd van die seisoen gevier saam met sy spanmaats voor hy van die Pont-Vieux op ʼn hoogte van 22 m gespring het.

Een van sy spanmaats, stut Christopher Vaotoa, het ook in die water gespring om hom te help. Vaotoa is deur brandbestryders gered en na ʼn hospitaal geneem met verkluimingsimptome. Meafua se liggaam is Saterdagoggend gevind.

Meafua het Sewes vir Samoa gespeel en het vir die eerste keer in 2015 na Frankryk gereis om vir Narbonne te speel. Het hy in 2018 teruggekeer om vir Beziers te speel voor hy verlede seisoen na Montauban oorgeskuif het. Het het hierdie seisoen in 24 wedstryde gespeel en agt drieë gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.