Ruimte toe op 82

Jeff Bezos en Wally Funk. Wally Funk sal die oudste persoon in die wêreld se geskiedenis wees om die ruimte te verken. (Foto: AFP / Instagram / Jeff Bezos)

Die 82-jarige Amerikaanse vlieënier Wally Funk sal die miljardêr Jeff Bezos (57) en sy broer, Mark, op 20 Julie op hul ruimtevlug aan boord die New Shepard-ruimtetuig vergesel.

Dit is die eerste bemande vlug van Bezos se ruimtemaatskappy, Blue Origin, en dit sal Funk die oudste persoon in die wêreld se geskiedenis maak om die ruimte te verken.

Die oudste persoon wat naas Funk na die ruimte gevaar het, was die Amerikaanse ruimtevaarder John Glen. Hy was 77 jaar oud toe hy die tog in 1998 aan boord die Discovery-ruimtetuig aangedurf het.

“Ek kan nie wag nie,” het ’n opgewonde Funk vroeër die week gesê.

Hoewel sy reeds 60 jaar gelede as deel van ’n private opleidingsprogram, Mercury 13, opgelei is om die ruimte in te vaar, is sy destyds op grond van haar geslag van dié geleentheid ontneem.

’n jong Wally Funk. (Foto: AFP / BLUE ORIGIN)

Die opleiding wat die Mercury 13-groep ontvang het, was soortgelyk aan die amptelike program wat deur Nasa aan ruimtevaarders aangebied is.

Sy vertel dat sy nog altyd ’n ruimtevaarder wou wees en dat mense dié droom dikwels afgeskiet het.

“Mense het altyd vir my gesê ‘Wally, jy’s ’n meisie, jy kan dit doen nie’.”

Dít het Funk egter nie gekeer om haar droom na te streef nie.

“Niemand het langer as Wally Funk gewag nie,” het Bezos Donderdag op sy Instagram-profiel gesê waar hy ’n video van hom en Funk gedeel het.

“Dis tyd, welkom by die bemanning. Ons is opgewonde om jou as eregas aan boord die vlug te hê.”

Dit is nog nie bekend wie die oorblywende drie sitplekke op die New Shepard, wat uit ’n woestyn in Texas sal vertrek, gaan vul nie. Die vlug sal glo 10 minute duur waarvan passasiers vier minute bó die Karman-lyn, die skeiding tussen die aarde se atmosfeer en die ruimte, sal deurbring. Die New Shepard het reeds meer as 12 onbemande toetslopies suksesvol uitgevoer.

Die Britse miljardêr Richard Branson het intussen aangekondig dat hy Bezos met tot nege dae met sy eie ruimtevlug gaan voorspring.

Virgin Galactic sê Branson sal na verwagting op 11 Julie die ruimte aan boord die SpaceShipTwo Unity invaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Willempie ·

Ag wil julle nie sommer vir Jacob Zuma saamneem nie. Dan kan ons ten minste vir ń ruk (of dalk permanent) van die skepsel ontslae raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.