Ruimteman help bou aan toetstoestel vir Covid-19

Dr. Japie van Zyl (Foto: NMMU)

Die Namibiese ruimteman dr. Japie van Zyl is betrokke by ’n span kenners wat binne enkele weke ’n toestel aan ’n raad gaan voorlê wat pasiënte binne minute vir die nuwe koronavirus kan toets. Sou dié toestel deur die betrokke raad goedgekeur word, sal spreekkamers en apteke in die VSA dit kan gebruik om binne 15 minute vas te stel of ’n pasiënt Covid-19 onder lede het.

Só het Van Zyl Woensdag in ’n webinaar deur die Skoleondersteuningsentrum (SOS) verduidelik. Van Zyl is ’n Namibiese boorling en het onlangs uitgetree by die internasionale ruimtemaatskappy Nasa JPL in Pasadena, Kalifornië, in die VSA.

Volgens Van Zyl is die toestel oorspronklik ontwikkel te midde van die Ebola-uitbreking, maar dit kan enige ander siektes wat deur virusse veroorsaak word, toets na gelang van die kasset wat gebruik word. Hy verduidelik dat elke virus ’n spesifieke kasset het wat aan die virus gekoppel is. Die betrokke kasset moet bloot in die masjien geplaas word vir die toestel om dié spesifieke virus te kan opspoor.

Hy verduidelik dat die toestel nié net deur die toetsmonster kan vasstel of ’n pasiënt die virus onder lede het nie, maar ook hoe aansteeklik die betrokke pasiënt is.

“Die toestel maak gebruik van presies dieselfde proses as enige ander groot masjiene wat in laboratoriums gebruik word en is 99% akkuraat,” het Van Zyl gesê.

Hy verduidelik dat die toestel tot 20 toetsmonsters gelyktydig kan toets, hoewel dit slegs een lesing sal gee. Dit beteken dat die toetsresultate slegs negatief sal terugkom indien al 20 pasiënte negatief getoets het vir die virus.

Sou die resultaat egter positief terugkom, sal die toetsmonsters individueel getoets moet word om vas te stel watter pasiënt se toetsmonster positief getoets het.

Volgens Van Zyl sal die toestel oor twee weke aan die raad van die VSA se Food and Drug Administration (FDA) voorgelê word. Die toestel word bemark vir onder $1 000 (sowat R18 564). “Ons probeer om dit so toeganklik moontlik te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ElizeK ·

Sjoe, dit is min geld vir so n fantastiese toestel.
Miskien moet die ANC aankoop, dan sal hul ten minste ander provinsies ook kan toets.
Ag hoe stupid van my, mr Trump sal weer skenk.
Wonder wat sy storie is.

johanf ·

Wonderlik, mag dit so gou moontlik realiseer, terwyl daar nog paar rand is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.