Ruk-en-rol-legende Little Richard oorlede

Little Richard (1966) (Foto: AP Photo, File)

Die ruk-en-rol-legende Little Richard, wat bekend is vir sy liedjies “Tutti Frutti” en “Good Golly, Miss Molly”, is in die ouderdom van 87 oorlede.

Little Richard het Saterdag gesterf, het sy seun Danny Penniman aan Rolling Stone en die New York Times gesê. Besonderhede oor waar hy gesterf het of die oorsaak van sy dood is nie bekendgemaak nie.

Huldeblyke het ingestroom vir die musikant.

“[Little Richard] was in die begin daar en het ons almal gewys hoe om te ruk-en-rol,” het Beach Boys-sanger Brian Wilson op Twitter gesê en bygevoeg, “Little Richard se musiek sal vir ewig aanhou”.

Voormalige presidentsvrou Michelle Obama het ook ʼn huldeblyk gelewer aan die sanger se “lewenslus, kreatiwiteit en dat hy geweier het om enigiets anders as net homself te wees”.

Sangeres Patti Smith het op Instagram gesê hy het haar as kind geïnspireer en “ʼn positiewe anargie in ʼn klein dogtertjie se hart laat brand”. “Niks was ooit weer dieselfde ná ek sy opgewondenheid gehoor het nie.”

Dit volg ná jare se spekulasie oor Little Richard se gesondheid ná ʼn heupoperasie. Hy het in afsondering geleef in Tennessee in die VSA.

Little Richard en die Pointer Sisters (21 April 2002) (Foto: AP Photo/Chris Pizzello, File)

Richard Wayne Penniman is op 5 Desember 1932 gebore in ʼn armoedige familie in Macon, Georgia. Hy was die derde van 12 kinders en die bynaam “Little” gekry, omdat hy as kind baie klein was.

Sy pa, ʼn smokkelaar, is vermoor toe Little Richard 19 jaar oud was.

Hy het 65 jaar gelede roem verwerf toe hy in 1955 sy liedjie “Tutti Frutti” begin het met: “A wop bop a loo lop a lop bam boo!”

“Tutti Frutti” was vinnig ʼn treffer en het die onbekende musikant in ʼn superster verander.

ʼn Rits ander treffers het gevolg, waaronder “Good Golly, Miss Molly”, en “Lucille”, wat later ook deur sterre soos Elvis Presley gesing is.

Sy musiek het almal beïnvloed – van Elvis Presley tot The Beatles en Prince. Rod Stewart, David Bowie, Bob Dylan en Freddie Mercury het ook beweer hy was hul inspirasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.