Rusland gaan appelleer teen Olimpiese verbod

(Argieffoto: Twitter)

Rusland het bevestig dat hy gaan appelleer teen ʼn vier jaar lange Olimpiese verbod omdat hy met opkikkertoetsdata gepeuter het.

Die Russiese agentskap teen die gebruik van verbode middels, RUSADA, het Vrydag ʼn formele brief gestuur waarin hy kennis gee dat hy kapsie maak teen die sanksies wat die Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels (WADA) vroeër vandeesmaand ingestel het. Die saak is reeds op pad na die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie.

Volgende jaar se Olimpiese Spele in Tokio is die derde agtereenvolgende Spele wat voorafgegaan word deur ʼn regstryd oor Rusland se verbode middel-kwessies.

RUSADA sê hy “betwis die [WADA-] kennisgewing in sy geheel. Dit sluit in die bewyse dat met data gepeuter is. Die data is in Januarie oorhandig en terwyl dit beweerde toesmeerdery wat in die verlede plaasgevind het moes verduidelik, het nou tot selfs meer hofsake gelei.

RUSADA se uitvoerende hoof, Yuri Ganus, het sy eie nota van protes aan Vrydag se brief aangeheg. Ganus staan krities teenoor Russiese amptenare en het nie saamgestem met die besluit om appèl aan te teken nie. Die agentskap se stigters het egter sy beswaar afgemaak. Hulle sluit sommige van Rusland se invloedrykste sportleiers in.

Die WADA-sanksies verbied die gebruik van die Russiese spannaam, vlag of volkslied by ʼn rits groot sportbyeenkomste oor die volgende vier jaar. Dit sluit die Olimpiese Spele aanstaande jaar, asook die Wêreldbekersokkerbyeenkoms in 2022 in.

Russiese atlete sal toegelaat word om onder ʼn neutrale vlag deel te neem, mits hulle ʼn omvattende proses slaag wat hul geskiedenis van dwelmstoetse insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.