Rusland gekap oor Hitler-uitlating

Die Russiese minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov. (Foto: Yuri KOCHETKOV / POOL / AFP)

Die Israelse minister van buitelandse sake, Yair Lapid, het Maandag na sy Russiese eweknie, Sergei Lavrov, gekap ná dié se uitlating dat die voormalige Duitse leier Adolf Hitler moontlik “Joodse bloed gehad het”.

Pres. Wladimir Poetin van Rusland het in Februarie met sy land se inval van Oekraïne gesê die militêre operasie het ten doel om sy pro-Westerse buurman te “demilitariseer en te de-nazifiseer”.

Poetin se minister van buitelandse sake is in ʼn onlangse onderhoud met ʼn Italiaanse nuuskanaal daarop gewys dat die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, self ʼn Jood is, en daarom kwalik van Nazisme beskuldig kan word.

“Ek kan verkeerd wees, maar Hitler het ook Joodse bloed gehad,” het Lavrov geantwoord.

Dié gewraakte stelling het Israel – wat tot dusver ’n fyn balans tussen die strydende Rusland en Oekraïne handhaaf – warm onder die kraag gehad.

Lapid het Lavrov se uitlatings in ’n verklaring as “’n onvergeeflike en verregaande verklaring” sowel as ’n massiewe “historiese fout” veroordeel.

“Jode het hulself nie in die Joodse menseslagting vermoor nie. Die laagste vlak van rassisme teen Jode is om Jode self van antisemitisme te beskuldig.”

Naftali Bennett, Israel se eerste minister, het intussen ook Lavrov se “leuens” veroordeel. Bennett sê die Russiese minister beskuldig die Jode inderwaarheid “van die aakligste misdade in die geskiedenis” wat teen hulle gepleeg is.

“Geen oorlog in ons tyd is soos die Joodse menseslagting of is vergelykbaar met dié menseslagting nie. Die gebruik van die Joodse volkslagting as ʼn politieke instrument moet onmiddellik einde kry.”

Zelenski, wat in Maart self gekritiseer is nadat sy regering die oorlog in Oekraïne met die Joodse menseslagting vergelyk het, het Maandagaand gesê hy is stomgeslaan deur Lavrov se uitlating.

“Hierdie woorde beteken dat Rusland se topdiplomaat die Joodse volk blameer vir Nazi-misdade… Ek het geen woorde nie.”

Zelenski het vroeër ʼn beroep op Israel gedoen om “ʼn keuse te maak” deur Oekraïne te ondersteun en wapens aan die land te verskaf. Israel het toe helms en koeëlvaste baadjies aan Oekraïense reddingswerkers verskaf, maar het nie die land van wapens voorsien nie.

Intussen probeer Bennett om veiligheidsamewerking met Rusland, wat troepe aan Israel se noordelike grens met Sirië het, in stand te hou.

“Die vraag is nou, sal die Israelse ambassadeur in Moskou bly, noudat hy weet wat dié land se posisie is?” het Zelenski in sy jongste toespraak gesê. “Sal betrekkinge met Rusland bly soos wat dit is? Want sy [Lavrov se] opmerkings is nie toevallig nie.”

Dmitro Kuleba, Oekraïne se minister van buitelandse sake, het in ʼn twiet gesê Lavrov se opmerkings illustreer “die diep gewortelde antisemitisme van die Russiese elite”.

“Hulle demonstreer dat vandag se Rusland vol haat teenoor ander nasies is.”

Die VSA wat Oekraïne ondersteun, het intussen gesê dié land is “ʼn gewaardeerde vennoot” teen antisemitisme.

“Om die leuen van de-nazifisering in Oekraïne te gebruik, ʼn land met ʼn Joodse president en ʼn beduidende Joodse bevolking wat in vrede tussen hul medeburgers leef, is ongegrond en wreed versteurd,” het die kantoor van die gesant van die departement van buitelandse sake oor die bekamping van antisemitisme op Twitter geskryf.

Steffen Hebestreit, woordvoerder van die Duitse regering, het aan verslaggewers gesê hy dink nie die “Russiese propaganda” wat deur Lavrov versprei word, het enige kommentaar nodig nie. “Dit is absurd.”

Mario Draghi, Italië se eerste minister, het Lavrov se uitlatings as “werklik verregaande” veroordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

MT ·

Was net ‘n kwessie van tyd voordat die rassisme teerkwas te voorskyn sou kom. Tog so voorspelbaar!

Al wat nog kortkom in hierdie tragie-komedie is dat die gebruik van die Russiese taal internasionaal verbied word, of dat CNN / BBC met bewyse vorendag kom wat toon dat Rusland deel was van die slawehandel. Of dat Poetin ‘n aangetroude neef van Hitler is.

Andrew ·

En tog moet onthou word dat die Russe die helfte van Berlyn na sy dood in besit geneem het. En was dit nou die Russe of die Weste (wat ons in elk geval weet is net so erg soos die ander na ons eie ondervindings) wat vir Hilter gejaag het? Wonder ook hoe lank die weste met sy ooglopende idiologiese veranderinge die isreal staat gaan steun.

Johan ·

Ek sien bitterlik baie uit daarna dat daai “isreal is heilig” idiologie eindig. Die wêreld sal n beter plek wees.

JohanR ·

Die ou is Naledi Pandor, Cyril Ramaphosa se spreekbuis! Die Russe het nie verander vanaf 1945. Nog net soe wreed, en dit kan in die Oekraine gesien word. Gebruik verkragting as ‘n wapen, en wie gooi ‘n missiel af op ‘n trein stasie waar vroue en kinder wag op verwoer om hulle weg te neem van die gewegte af. En Cyril oefen net “quiet diplomacy!” Hoekom is baie in die land kwaad omdat John Steenhuizen Oekraine toe is om vir homself te kyk? Al klaar beter gedoen as ou Cyril!

Johan ·

Jy kan niks in die Öekraine sien nie, net wat vir jou opgedis word. Dit is presies hoekom CR nie kan gaan nie, want hy sal nie kan verslag doen van wat hy daar sien nie. Sien nogal uit na wat ou JS gaan sê, die waarheid of die hoofstroom, want met altwee is hy in die moeilikheid êrens.

Thom ·

In hierdie geval is hoofstroom die waarheid of maak jy ook die verdigsels op dat Oekraïene hulle eie mense doodmaak en verkrag net om jou Russe te benadeel ?

Marthinus W ·

Die registrasienommer op die missiel by die treinstasie bewys dit het aan Kief behoort.

Dirk ·

En waar het jy hierdie kamstige 100% akkurate inligting vanaf gekry? Skokkend hoe baie Suid Afrikaners hulself blind staar aan Russie propaganda.

Marthinus W ·

Rusland besit mos n deel van Adolf se skedel, en hulle het vroeer DNS toetse gedoen. Dalk moet hulle weer toetse doen.

Pieter ·

Wel as jy teen jou eiei neus vas kyk sal jy naderhand glo wat jy wil.

john ·

Daar is heel waarskynlik waarheid in die stelling oor Hitler een van sy oor grootouers was glo Joods. Maar wat maak dit saak. En NATO is nie onskuldig in die heele debakel. Jy kan die situasie vergelyk met die Cubaanse misiel krisis in dien vro 60s Waar pres Kennedy amper WW3 begin het. Putin kon ook nie toelaat dat die Eukraine by NATO aansluit nie. En dan kortafstand misiele daar op rig nie. Ek kan nie die inval goed keur nie maar NATO is nie die onskuldige speeler in die verhaal nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.