Rusland gewaarsku om energievoorraad nie as wapen te gebruik nie

Pres. Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Nikolsky, AP)

Die Verenigde State van Amerika het Rusland Dinsdag gewaarsku om nie sy enorme olie- en gasbedryf teen Europese lande te gebruik wat dit invoer nie, indien konflik teen Oekraïne toeneem.

“As Rusland besluit om sy voorraad van natuurlike gas of ru-olie as ʼn wapen te gebruik, sal dit nie sonder gevolge wees vir die Russiese ekonomie nie,” het ʼn senior VSA-beampte aan verslaggewers gesê.

Alhoewel die Europese Unie sowat 40% van sy voorraad van Rusland bekom, steun Moskou self ook op die verkope van energiebronne as ʼn bydrae tot sy nasionale begroting. “Dit is ʼn interafhanklikheid,” het die beampte bygevoeg.

ʼn Rits ekonomiese sanksies word intussen voorberei om te reageer indien Rusland die Oekraïne sou binneval. Dit sluit in vorige ongebruikte beperkings op uitvoere van hoë-tegnologie VSA-toerusting.

“Ons praat van gesofistikeerde tegnologieë wat ons ontwerp en vervaardig,” het die beampte gesê. Dit sluit kunsmatige intelligensie, kwantum-rekenaarwese en ruimtevaarttegnologie in. “Dit sal pres. Wladimir Poetin se strategiese ambisie, om sy ekonomie te industrialiseer, swaar tref.”

Die Verenigde Koninkryk het Rusland ook gewaarsku oor sanksies “erger as ooit tevore” indien hy die Oekraïne sou binneval.

Die Britse eerste minister Boris Johnson het Dinsdag gesê hy het met bondgenote vergader vir ʼn krisisgesprek oor Moskou se dreigemente.

“Ons het ooreengekom dat ons eensgesind sal reageer op enige Russiese aanval op die Oekraïne deur gekoördineerde en erge ekonomiese sanksies toe te pas – erger as enigiets vantevore teen Rusland.”

Op ʼn vraag of Moskou uit die wêreldwye Swift-stelsel vir finansiële betalings geskop sal word, het Johnson geantwoord: “Dit sal ongetwyfeld ʼn baie magtige wapen wees.”

Hy sê só stap sal deur die VSA hanteer word, as die kern van die wêreldwye finansiële stelsel. “Ons is in gesprek daaroor.”

Maroela Media het vroeër berig Rusland het tot dusver ongeveer 100 000 troepe en swaar militêre toerusting binne trefafstand van Oekraïne geplaas. Rusland het tot dusver volgehou hy is nie van plan om Oekraïne binne te val nie, maar kon ook geen verduideliking vir die plasing van sy troepe op die grens gee nie. Russiese troepe is glo ook na Belo-Rusland gestuur vir opleiding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

So, die ou skandemaker probeer nou die aandag aflei van sy eie tekortkominge. En toe onthou almal van die eintlike rede hoekom die Weste op Rusland se drumpel boer: energiebronne en edelgesteentes en vlaktes vol graan sonder gm-skade. Watter vreemde winter-oorlog wil Navo probeer veg? Daarin lê die antwoord oor hoekom Biden, Navo en die hele boksemdais kamma só besorg is oor die Slawiese Ukraïne, wat nie eens Ingels gebruik om brood te koop nie? Lees 1984 se riller-voorspellings.

Ettienne

Ek is nie seker dat Putin enige angsdrome oor Biden se dreigemente het nie. Watter konflik sedert WWII het die VSA actually suksesvol afgehandel?

RomeoTangoGolf

Rules for thee, but not for me. Tipies van die Weste

Dirk Mostert

Die VSA en Navo soek skoor.

Johan SA

So die hele oorlog ding is ‘n slegte idee. Ja. Maar Rusland mag nie energie bronne afsny nie maar, daar sal sanksies wees teen Rusland en, hulle gaan moontlik van die Swift stelsel geskop word… dink daaroor. Dit is oorlog.