Rusland hou eerste ‘koninklike troue’ in 127 jaar

Groothertog George Mikhailovich Romanof soen vir Victoria Romanovna Bettarini soos wat hulle die Isakkatedraal in St. Petersburg verlaat. (Foto: Olga Maltseva / AFP)

Rusland het Vrydag sy eerste koninklike troue gehad sedert die Russiese Bolsjewistiese Revolusie in 1917 die Huis van Romanov laat kantel het, met aristokrate wat van reg oor Europa gereis het om die luukse seremonie by te woon.

Groothertog George Mikhailovich Romanof (40) en sy Italiaanse verloofde, Rebecca Virginia Bettarini (39), is by die Isakkatedraal in die voormalige imperialistiese hoofstad St. Petersburg getroud.

Honderde buitelandse gaste en koninklikes uit 20 lande, onder andere die laaste koning van Bulgarye, Simeon II, die laaste koning van Egipte en Soedan, Fuad II, en prinses Lea van België, het vir die Ortodoks-Christelike seremonie na Rusland gereis.

Die gastelys van sowat 1 500 mense het prominente name soos Konstantin Malofeyev, ʼn monargis en miljardêr na aan die Kremlin, asook die woordvoerder van die Russiese departement van buitelandse sake, Maria Zakharova, ingesluit.

Bettarini het verlede jaar na die Ortodokse geloof bekeer.

Jong strooimeisies wat in oranje geklee was, het die bruid se sleep, waarop die wapen vir die Russiese ryk in goud geborduur is, gedra.

Bettarini het ook ʼn diamant-tiara deur die juweliers Chaumet gedra.

Die seremonie het die uitruil van ringe deur Fabergé ingesluit. Die Huis van Fabergé het gesê dit was die eerste keer wat hulle ringe vir die Romanof-familie gemaak het sedert die Russiese revolusie.

‘My hart juig’

Groothertog George Mikhailovich Romanof en Victoria Romanofna Bettarina se troue in die Isakkatedraal in St. Petersburg. (Foto: Olga Maltseva / AFP)

Sommige vroue het ontwerpershoede en pelse gedra, terwyl die mans Kossak-uniforms gedra het wat met medaljes versier is.

Natalya Grigorovich, ʼn afstammeling van Ivan Grigorovich, Tsaristiese Rusland se laaste vlootminister, het die seremonie as “hartroerend” beskryf.

“My hart juig,” het sy bygevoeg.

Galina Bobrova, ʼn inwoner van St. Petersburg, het gesê sy wens die paartjie “geluk” toe.

“Vir ons is die monargie iets uit ʼn vorige lewe, natuurlik, maar dit bly interessant,” het die 50-jarige aan AFP gesê.

Ná die seremonie het ʼn erewag met gekruisde swaarde die pasgetroudes gesalueer toe hulle buite die katedraal gesoen het.

Meer as 500 gaste was genooi om Vrydag die ete na afloop van die troue in die stad se Museum van Etnografie by te woon.

Die laaste troue in Rusland van ʼn erfgenaam van die Romanof-dinastie was dié van Nicholas II en Alexandra, 127 jaar gelede.

Voor die seremonie het Romanof gesê die paartjie het gekies om in St. Petersburg te trou, want dit was die eerste plek in die land waarheen die familie teruggekeer het in die vroeë 1990’s.

“Dit lê ons familie baie, baie na aan die hart,” het hy voor die troue aan die St. Petersburg-nuusagentskap Fontanka gesê.

St. Petersburg is “die geskiedenis van Rusland en die geskiedenis van die Huis van Romanof”, het hy bygevoeg.

‘Ambassadeurs van welwillendheid’

Jong strooimeisies wat in oranje geklee was, het die bruid se sleep, waarop die wapen vir die Russiese ryk in goud geborduur is, gedra. (Foto: Olga Maltseva / AFP)

Romanof is in Madrid, Spanje, gebore en is die seun van die groothertogin Maria Vladimirovna Romanova, die selfaangestelde opvolger van die Russiese imperialistiese troon.

Sy is die kleindogter van groothertog Kirill, ʼn neef van Nicholas II, die laaste Russiese tsaar wat in 1918 deur die Bolsjewieks tereggestel is saam met sy vrou, Alexandra, en hulle vyf kinders.

Hulle liggame is ná die teregstelling begrawe in ʼn plek wat deur die Sowjetse owerhede geheim gehou is. Die liggame is in 1998 geskuif na die Peter and Paul-katedraal in St. Petersburg.

Die familie is in 2000 gekanoniseer deur die Ortodokse kerk as martelaars.

Ná die troue het die pasgetroudes blommekranse gelê in die Peter and Paul-katedraal.

Romanof, wat die grootste deel van sy lewe in Frankryk deurgebring het, het aan Oxford studeer en in die Europese parlement gewerk. Hy het ook werk vir die Russiese mynreus Norilsk Nickel verrig.

Die paartjie het drie jaar gelede na Rusland verhuis, waar hulle eers in die voorstede van Moskou gewoon het voordat hulle nader aan die stadskom langs die Kremlin verhuis het.

Romanof werk nou aan verskeie liefdadigheidsprojekte. Hy het gesê hy glo dat Europese en Russiese koninklikes kan help om die bande tussen Moskou en die Weste te versterk.

“Ek dink ons kan ambassadeurs van welwillendheid wees.”

ʼn Woordvoerder vir Wladimir Poetin het aan verslaggewers gesê die Kremlin wens altyd alle pasgetroudes geluk toe, maar dat die president nie van plan is om hierdie egpaar geluk te wens nie.

“Die huwelik hoort nie op ons agenda in enige vorm nie,” het Dmitry Peskov gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peach ·

In hedendaagse moderne samelewing, is daar nog bestaansreg vir die “adel gestand”?

Petrus Albertus ·

‘n Oorerflike aristokrasie is dalk uitgedien maar elke samelewing het ‘n aristokrasie nodig om as beskermhere van beskawing te dien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.