Rusland lanseer hipersoniese missiele

Hipersoniese missiele is Vrydag op Oekraïne afgevuur. (Foto: AFP)

Rusland het Saterdag erken dat hy vir die eerste keer die Kinzhal, wat ʼn gevorderde hipersoniese missiel is, op Oekraïne afgevuur het om ʼn wapenopslagplek te vernietig.

Dié soort missiel kan tot tien keer vinniger as die snelheid van klank beweeg. Klank beweeg meer as 300 m per sekonde.

Russiese magte het gesê hy het hierdie missiel gebruik om Vrydag ʼn wapenopslagplek in die dorpie Deliatyn aan die Roemeense grens te vernietig.

Moskou het volgens AFP nog nooit vantevore erken dat hy hierdie gevorderde missiel al gebruik het nie.

“Die vyand het ons wapenstore geteiken, maar ons het geen inligting oor die soort missiel wat teen ons gebruik is nie,” het Yuri Ignat, woordvoerder van die Oekraïense lugmag, Vrydag aan AFP gesê.

“Daar is groot skade en van ons ammunisie het ontplof. Hulle gebruik nou al die missiele in hul arsenaal teen ons.”

Volgens AFP is Rusland een van die lande wat die grootste arsenaal kernwapens in die wêreld het.

Die Kinzhal word glo as die ideale wapen beskryf, aangesien dit die meeste verdedigingstelsels kan ontduik en op teikens tot 2 000 km ver weg afgevuur kan word.

Die Russiese president, Wladimir Poetin, het in sy 2018-staatsrede ʼn hoëspoed-onderwater-hommeltuig bekendgestel wat in staat is om ʼn kernplofkop te dra wat vliegtuie én kusfasiliteite kan teiken, berig France24.

Kenners is egter nog skepties of van hierdie kernwapens ooit in die huidige konflik met Oekraïne gebruik sal word.

Maroela Media het vroeër berig dat die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, opnuut vir vrede gevra het en nou ernstig met Moskou samesprekings wil voer.

Intussen duur gevegte in die stad Marioepol voort, terwyl Oekraïense amptenare Saterdag bevestig het dat hulle geheel en al beheer oor die Azovsee verloor het.

Russiese vlootmagte het verlede week al ʼn blokkade aan die kus van die Swartsee opgerig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.