Rusland onttrek dalk van sy troepe uit Oekraïne

Russiese tenks verlaat die gebied waar driloefeninge gedoen is. (Foto: AFP / Russiese ministerie van verdediging)

Rusland het Dinsdag gesê hy gaan van sy magte naby die Oekraïense grens na hul basisse terugtrek, wat moontlik as die eerste groot stap in die afskaal van ʼn dreigende konfliksituasie beskou kan word.

Moskou het egter tot dusver min besonderhede hieroor verskaf en daar was nog geen direkte bevestiging van die onttrekking nie. Volgens die Kremlin was dit egter nog altyd deel van hul beplanning ondanks “Westerse histerie” oor die gevreesde aanval op Oekraïne. Russiese owerhede meen die Weste het Rusland se militêre oefeninge verdraai om oorlogspropaganda te verkondig en spanning aan te blaas.

Maroela Media het vroeër berig dat Rusland se troepe reeds die afgelope paar weke op gereedheidsgrondslag langs die grens van Oekraïne geplaas is, terwyl die VSA en Engeland met sanksies en militêre optrede teen Rusland dreig sou hy die land binneval. Teen Dinsdag was Russiese troepe op die grens reeds 100 000 man sterk en Amerika het gevrees ʼn inval kon “enige oomblik” plaasvind.

Die Russiese ministerie van verdediging het Dinsdagoggend gesê sommige magte wat naby Oekraïne ontplooi is, het hul take en oefeninge voltooi en is besig om op te pak om te vertrek.

Die ministerie het ook ʼn video vrygestel wat glo wys hoe Russiese tenks die gebied verlaat waar driloefeninge gedoen is.

Dit is egter nie duidelik hoeveel eenhede onttrek is en wat die impak op die totale aantal troepe om Oekraïne sal wees nie. Dit was egter die eerste aanduiding in weke van ʼn moontlike onttrekking.

Jens Stoltenberg, sekretaris-generaal van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO), het in Brussel gesê daar is “gronde vir versigtige optimisme” in die tekens wat Rusland uitstuur. Hy het egter gewaarsku dat daar nog “geen teken van afskaling op grondvlak gesien is nie”.

Onder inwoners van die Oekraïense hoofstad Kiëf is daar Dinsdag ook ʼn sug van verligting geslaak.

“Daar is geen paniek onder inwoners nie… Jy sien baie mense rondloop. Hulle glimlag almal en is almal gelukkig,” het Artem Zaluznyi (22), ʼn plaaslike prokureur, aan AFP gesê.

Hy meen inwoners loop egter steeds katvoet, met baie wat twyfel dat Rusland wel enige beloftes om te onttrek, sal nakom.

“Om dit heeltemal te glo, sal nie slim of wys wees nie.”

Die huidige konflik tussen Rusland en die Weste word as die ergste nóg beskou sedert die beëindiging van die Koue Oorlog. Washington het Maandag die dramatiese stap gedoen om sy ambassade in Kiëf na die westelike stad Lviv te verskuif, nadat hy Amerikaanse burgers vroeër aangemoedig het om Oekraïne so vinnig moontlik te verlaat.

Intussen beweer Russiese owerhede steeds dat die Weste spanning probeer uitlok en die situasie opblaas.

Maria Zakharova, woordvoerder van die Russiese ministerie van buitelandse sake, meen Dinsdag se nuus sal bewys dat dit die Weste is wat onnodige spanning met sy uitsprake aangeblaas het. Volgens haar sal 15 Februarie 2022 in die geskiedenis opgeteken word as “die dag waarop Westerse oorlogspropaganda misluk het”.

“Verneder en vernietig sonder dat ’n enkele skoot afgevuur is,” het sy op sosiale media geskryf. Dmitri Peskov, woordvoerder van die Kremlin, het aan verslaggewers gesê die onttrekking was die “gewone proses” ná militêre oefeninge.

Hy het ook die Weste vir die huidige krisis blameer.  “Dit is niks anders as ’n totaal ongekende veldtog om spanning aan te vuur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Shakespeare

Pasop Amerika. Jy kan die Russe gladnie glo of vertrou nie, net soos die ANC/EFF in ons land.

JohanR

Vra nog wat maak 130000 troepe en hulle gereedskap om ‘n ander land se grens. Dink Botswana sal ook beswaar aanteken as daar 130000 SA troepe op hulle grens was. 130000 SA troepe – jammer mense daar lag ek nou vir myself!

annie

… uit die Oekraïene??? Het hulle die land binnegeval? Dis wild. Sak Sarel…

Ben

Maroelamedia, julle opskrif is nie korrek nie – die onttrekking verwys na troepe wat in die laaste paar weke naby aan die Oekraïne se grens ontplooi is. Niemand het enigiets gesê van troepe wat “uit Oekraïne onttrek” gaan word nie, want die binneval het tot op datum nognie plaasgevind nie. “Naby aan die grens” is ook relatief – ‘n groot gedeelte van die troepe wat so konsternasie veroorsaak is ontplooi na die stede Smolensk en Volgograd, wat beide meer as 300km van die grens is. Om dit te vergelyk met Suid-Afrika – dit is soos as Zimbabwe sou kla as… Lees meer »

Samuel

Jy kan nie een van die twee supermoondhede vertrou nie. Hulle smag na oorlog, want dit is enigste manier om wapens te toets. Politieke speletjies.