Rusland sal weermagaktiwiteit rondom Kiëf ‘drasties afskaal’

Pres. Wladimir Poetin (Foto: Andrey Gorshkov /SPUTNIK/AFP)

Rusland sal sy weermagaktiwiteit in die noorde van Oekraïne, insluitend naby die hoofstad Kiëf, “drasties afskaal”, ná “betekenisvolle” gesprekke in Istanboel, het onderhandelaars in Moskou Dinsdag gesê.

“Gegewe die feit dat gesprekke oor die voorbereiding van ʼn ooreenkoms oor die neutraliteit en nie-kernstatus van Oekraïne prakties geraak het, is ʼn besluit geneem om drasties weermagaktiwiteit in Kiëf en Tsjernihiv af te skaal,” het Rusland se adjunk-verdedigingsminister Alexander Fomin gesê.

Hoofonderhandelaar Wladimir Medinski het gesê daar was ook ʼn “betekenisvolle gesprek” tydens die onderhandelings en voorstelle van Oekraïne sal aan Russiese president Wladimir Poetin voorgelê word. Hy het bygevoeg Poetin sal met Oekraïense president Wolodomir Zelenski vergader.

“Ná vandag se betekenisvolle gesprek het ons saamgestem en ʼn oplossing voorgestel – waarvolgens die vergadering tussen die staatshoofde moontlik is terwyl die ministers van buitelandse sake ʼn ooreenkoms onderteken.”

Die moontlikheid van vrede is nou ʼn baie groter waarskynlikheid op voorwaarde dat daar vinnig gewerk word aan die ooreenkoms om ʼn gepaste middeweg te vind.

Medinski sê Oekraïne het geskrewe voorstelle voorgelê waarvolgens Oekraïne ʼn “permanente neutrale staat onder internasionale waarborge” sal word, met die doel om die land ʼn nie-kernstatus te gee.

Hy sê onder Kiëf se voorstelle dek dié waarborge nie die Outonome Republiek die Krim of afgeskeide streke Lugansk of Donetsk nie. Dit beteken dat Kiëf pogings sal laat vaar om met sy weermag na dié streke terug te keer.

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski. (Foto: AFP via Oekraïense presidensie)

Volgens Medinski sluit Oekraïne se ooreenkoms ook in dat hy nie militêre alliansies sal aangaan nie en ook nie gasheer sal wees vir ander lande se basisse nie.

Kiëf se voorstelle is op voorwaarde dat Rusland “nie beswaar sal aanteken teen Oekraïne se strewe om by die EU aan te sluit nie”.

Kiëf versoek ook dat die finale ooreenkoms aangegaan sal word tydens ʼn vergadering tussen Zelenski en Poetin.

Medinski het volgens die staatsnuusagentskap TASS in kommentaar gesê die voorstelle “is beslis nie die voorwaardes van ʼn ooreenkoms nie”, maar “voorstelle van Oekraïne wat as ʼn konstruktiewe stap beskou word om kompromieë te bereik wat deur Rusland oorweeg sal word”.

“ʼn Geskikte reaksie sal gegee word,” het hy bygevoeg.

Staatsnuusagentskap RIA Nowosti het berig dat die Russiese afvaardiging van voornemens is om Dinsdag Istanboel te verlaat. ʼn Bron in die Russiese afvaardiging het gesê “gesprekke sal via video voortgesit word”.

Die Britse regering het egter ongeërgd gereageer op Rusland se bewerings dat hy van voornemens is om sy weermagaktiwiteit af te skaal.

“Ons sal Poetin en sy regime oordeel op sy dade, en nie sy woorde nie,” het eerste minister Boris Johnson se woordvoerder aan verslaggewers gesê. “Ons wil nie enigiets anders as ʼn algehele onttrekking van Russiese magte uit Oekraïne sien nie.”

Die VSA betwyfel ook of Rusland ernstig is oor gesprekke met Oekraïne, het die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken, gesê.

“Ek het nog nie enigiets gesien wat voorstel dat dit ʼn doeltreffende skuif vorentoe is nie, want ons het nog nie enige tekens van erns van Rusland gesien nie,” het Blinken tydens ʼn perskonferensie in Marokko gesê. “Aan die een kant is daar wat Rusland sê, en aan die ander kant is daar wat Rusland doen. Ons fokus op laasgenoemde.”

Meer as ʼn maand se konflik het reeds duisende lewens geëis en miljoene mense gedwing om hul huise te verlaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

Wel ek hoop die hele ding kan tot ‘n einde kom en almal kan saamleef met die ooreenkoms. Ek wens oorlog op niemand nie.

casper

Aan die weg hardloop en hy se maar net dit is beplan !!
Hol terwyl julle kan pel !!!

Dries

Wat gaan nou word van die sanksies. Ek wed dat Putin die kanselering daarvan gaan eis. Dan is ons weer terug by die begin behalwe dat die Ukraine verwoes is

Jacques

Dit klink redelik, maar die EU sal nie stop totdat hulle nie die hele Sentraal-Asie (insluitend Rusland) soos ‘n tsoenamie oorspoel en onderwerp het nie.

Die eintlike doel is algehele oorheersing – van die Weskus van Europa tot die verre strande van die Sjinese See.

Glo my nie?
Wel, tyd sal leer……..

Henry

Die groot rede is Puten is besig om te verloor. Gehoor meer as 15000 van sy soldate dood. Tenks vliegtuie ens venietig. Sy soldate het nie kos nie. En so kan ek aangaan.