Rusland se Covid-19-entstof met agterdog bejeën

Rusland ondersoek ‘n nuwe entstof vir Covid-19 (6 Augustus 2020) (Foto: Alexander Zemlianichenko Jr, Russiese Direkte Beleggingsfonds via AP)

Rusland het Dinsdag die eerste land geword wat ʼn Covid-19-entstof goedgekeur het vir gebruik in tienduisende van sy burgers, maar ander lande is skepties dat die entstof nog nie kliniese proewe afgehandel het nie en dit slegs op ʼn paar dosyn persone getoets is vir minder as twee maande.

Pres. Wladimir Poetin het, toe hy die aankondiging oor die goedkeuring gemaak het, gesê een van sy twee dogters is reeds ingeënt. Hy het gesê die entstof het die nodige toetse ondergaan en wys langdurige immuniteit teen die koronavirus, alhoewel Russiese owerhede geen bewyse aangebied het om sy bewerings van veiligheid of doeltreffendheid te staaf nie. “Daar is bewys dat dit doeltreffend is en ʼn stabiele immuniteit vorm,” het hy gesê. “Ons moet dankbaar wees vir diegene wat die eerste tree geneem het, wat baie belangrik is vir ons land en die wêreld.”

Wetenskaplikes in Rusland en ander lande het egter alarm gemaak en gesê dat dit kan boemerang indien die entstof aangebied word voor die fase 3-proewe afgehandel is – wat maande lank kan duur en waarby tienduisende mense betrek word.

“Om goedkeuring te bespoedig maak Rusland nie die leier in die (entstof)-resies nie, dit stel bloot verbruikers van die entstof bloot aan onnodige gevaar,” het Rusland se Vereniging van Kliniese Proewe Maandag gesê en staatsamptenare gemaan om die goedkeuring van die entstof uit te stel totdat gevorderde proewe afgehandel is.

Die entstof is ontwikkel deur die Gamaleya-instituut in Moskou en gebruik ʼn ander virus, die gewone adenovirus wat verkoues veroorsaak, wat gewysig is om gene te dra vir die “spits”-proteïen wat die koronavirus bedek, as ʼn manier om die liggaam voor te berei en te reageer sodra hy met die regte Covid-19-virus besmet word. Dit is soortgelyk aan entstof wat deur China se CanSino Biologics en Engeland se Oxford-universiteit en AstraZeneca ontwikkel word.

Gevorderde kliniese proewe sal na verwagting Woensdag begin, het Kirill Dmitriev, uitvoerende hoof van die Russiese Direkte Beleggingsfonds, aan verslaggewers gesê. Dié fonds finansier die ontwikkeling van die entstof. Die proewe sal in verskeie lande plaasvind, insluitend die Verenigde Arabiese Emirate, Saoedi-Arabië, die Filippyne en moontlik Brasilië en “duisende mense” sal betrek word, het Dmitriev gesê. Intussen sal die entstof aangebied word aan tien duisende mense wat vrywillig ingeënt wil word.

Adjunkminister Tatyana Golikova het gesê dokters kan reeds so vinnig as volgende maand ingeënt word. Russiese owerhede het gesê paramedici, onderwysers en ander risikogroepe sal eerste ingeënt word.

Grootskaalse vervaardiging van die entstof sal in September begin en massa-inenting reeds moontlik in Oktober.

Volgens die Interfax-nuusagentskap sal daar aanvanklik slegs genoeg dosisse wees om die entstof in tussen 10 en 15 van Rusland se 85 streke beskikbaar te maak.

Die Associated Press kon nie dokumentasie in die Russiese gesondheidsministerie se rekords vind dat toestemming gegee is om met die gevorderde kliniese proewe te begin nie. Die ministerie het nog nie reageer op ʼn versoek om kommentaar te lewer nie.

Die entstof word “Spoetnik” genoem na die eerste mensgemaakte satelliet wat om die Aarde gewentel het – ʼn oorwinning van die Sowjet-ruimteprogram in die laat 1950’s tydens sy kompetisie met die VSA.

Rusland het reeds 897 599 gevalle van Covid-19 aangemeld met 15 131 sterftes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

Whoopeeeeee…so ek neem.aan ons liewe RSA het klaar bestellings gevat? So via Ramaposa se Corona Raad?

Anel ·

Gelukkig het ek ‘n keuse om nie daai goed naby my toe te laat nie. Ek sal eerder die kans vat om NIE geent te word nie, dankie. Vertrou hulle in elke geval nie. Dis’ n wondef Suid Afrika het nie ook gespring om proefkonyne te wees nie.

koos10 ·

Plaas die wêreld gryp die geleendheid aan vir toetse, maar ek raai dit pas nie mooi by die planne in nie. Rusland was al baie die eerste met talle dinge, hoekom nie bietjie vertroue nie? Die koue oorlog lyk my is steeds aan die gang. Dis seker nie so moeilik om ‘n “sample” te kry nie?

LANA is ELANè ·

Ek vertrou niks wat uit enige kommunistiese land kom nie! Dankie, maar nee dankie, ek het nog nooit in my lewe van amper 6 dekades enige griep entstof geneem nie, en beplan ook glad nie om dit in die toekoms te doen nie!

annie ·

Ek sou eerder die Russiese entstof gebruik as diè uit Oosterse lande. Uit beginsel sal geen Duitse spuit naby my kom nie. Ons hoop die regering laat mense ‘n keuse of hul aan natuurlike oorsake mag sterf of die tabel van die minister mòèt haal vir oorle-dapper-dwase.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.