Rusland se oorlog teen Oekraïne kan miljoene ontwortel

ʼn Kleuterskool in Stanytsia, Luhanka in Oekraïne is in puin gelê ná ʼn kanonkoeël dit Donderdag getref het (17 Februarie 2022) (Foto: Aris Messinis/AFP)

Sou Rusland se oorlog teen Oekraïne voortduur, kan dit moontlik tot die ontworteling van meer as sewe miljoen mense lei.

Janez Lenarcic, die Europese Unie (EU) se kommissaris vir krisisbestuur, het Sondag gewaarsku dat dié getal egter net ’n “rowwe skatting” is.

“Ons is getuies van wat die grootste humanitêre krisis op ons Europese vasteland in baie, baie jare kan word,” het Lenarcic Sondag tydens ’n vergadering met EU-ministers oor die vloei van vlugtelinge uit Oekraïne gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat leiers van Oekraïne gesê het dat hulle samesprekings met hul Russiese eweknieë naby die grens met Belarus sal voer. Dít ná ’n gesprek tussen Wolodimir Zelenski, president van Oekraïne, en Alexander Lukashenko, president van Belarus. Volgens die Russiese president, Wladimir Poetin, is ’n Russiese afvaardiging reeds in Gomel, ’n stad in Belarus.

Lenarcic het die Verenigde Nasies (VN) aangehaal en gesê indien die oorlog voortduur, sal ongeveer 18 miljoen Oekraïners op grond van humanitêre redes geraak word, of dit nou in Oekraïne of in buurlande is.

‘n Soldaat van Oekraïne staan wag op die grens tussen Oekraïne en Rusland. (Foto: STEPANOV / AFP)

“Die syfers is groot en ons sal vir hierdie ongekende soort noodgeval moet voorberei.”

Luidens die VN se jongste situasieverslag deur sy kantoor vir die koördinering van humanitêre aangeleenthede is meer as 160 000 mense glo intern verplaas.

Meer as 116 000 is gedwing om oor internasionale grense na naburige Europese lande te vlug.

Altesame 198 burgerlikes, onder wie drie kinders, is teen Saterdag dood nadat Rusland Donderdag met ’n volskaalse inval in Oekraïne begin het.

Minstens 1 115 burgerlikes is gewond, terwyl vreesbevange inwoners van die hoofstad Kiëf in die stad se moltreinstelsel en in kelders skuil.

’n Hoë woonstelblok in Kiëf is deur ’n missiel getref terwyl ál meer aanvalle op die stad afgeweer moet word. Burgerlikes is met vuurwapens toegerus om hulself te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

AFP sê… Waarom het Navo nie bevestig dat hul die ooreenkoms sal eerbiedig om nie verder oos uit te brei nie? En dan wapens en hulp aan Biden se Ukraïene te stuur? Wie is die aggressors?

Kokerboom

Hoe regverdig die despotiese Putin die menseslagting asook die vernietiging gepaardgaande met sy kwaadwillige optrede??GOD is nie blind! Die blinde sambok gaan hom straf!

Raponsie

Ons bid vir al hierdie onskuldige mense en dat Rusland sal onttrek. Hartverskeurend…..

Anel

Hier is nou ‘n humanitêre krisis maar in ons land is hulle nog steeds meer gepla oor ‘n vervloekte virus, wat nie meer is nie maar wat dálk weer kan terugkom. Kom by. Die hele wêreld gaan binnekort onder hierdie sotheid lei en vir baie meer stertes verantwoordelik wees as die virus!!!

Anna-marie

Oekraiene het geweier om die Minsk ooreenkom met Rusland te eerbiedig.