Rusland uit G8: SA steun Rusland

Foto: AFP

Foto: AFP

Vyftien jaar na Rusland as agste lid van die eertydse G-7 toegelaat is, en die Koue Oorlog iets van die verlede was, is Rusland weer weggelaat.

Die geleentheid was die groot Kernspitsberaad wat in Den Haag, Nederland plaasvind. Hoewel die geleentheid ook deur Rusland se minister van buitelandse sake, Sergej Lavrov, bygewoon word, het Rusland geen uitnodiging gekry om aan die oorleg tussen pres. Barack Obama en die ander G-7-lande, Frankryk, het Verenigde Koninkryk, Italië, Kanada, Duitsland en Japan deel te neem nie. Die Brics-lande, waaronder Suid-Afrika, het sy eie oorleg gehou.

Dié G-7 leiers praat weer openlik van die G-7, en sê solank as wat Rusland hom nie aan die internasionale reg steun nie, is daar “geen rede om Rusland weer in te laat nie.”

Die volgende G-8-beraad was juis geskeduleer om in Junie in die Russiese stad Sotsji plaas te vind. By die kern-spitsberaad het kanselier Angela Merkel van Duitsland en die Britse premier, David Cameron dit duidelik gestel dat daar “geen kans” is dat die G-7 lande na Sotsji sal reis voor Rusland hom nie by die internasionale reg hou nie. Rusland word vir sy anneksasie van die Krim, en bedreiging van Oos-Oekraïne verkwalik.

Die Brics-lande het in sy verklaring onder meer gesê sanksies dra nie by tot die vind van volhoubare oplossings nie. Hulle is ook gekant teen ‘n voorstel van Australië dat Rusland later vanjaar deelname aan die G-20 ontsê word.

Hoewel sommige waarnemers steeds na die jongste verwikkelinge as ‘n hervatting van die Koue Oorlog verwys, het die Sweedse minister van buitelandse sake, Carl Bildt, waarskynlik ‘n meer akkurate naam daarvoor gegee, naamlik die Post-post Koue Oorlog. “Ons beweeg nou op onbekende terrein,” aldus Bildt.

Rusland het die uitsluiting uit die G-8 as “geen ramp nie” afgemaak.

Intussen het die spitsberaad wel ook aandag geskenk aan dit waarvoor byeengekom is – om te probeer verseker dat kernmateriaal nie in die verkeerde hande soos terroriste kan beland nie. Die slotteks van die beraad word na verwagting vandag geteken.

Bronne: Trouw, De Standaard, Christian Science Monitor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik ·

Waaroor die bohaai van die Weste? Die mense van die Krim gebied het dan 96.6% gestem om weer by Rusland ingelyf te word? Glo hulle dan nou nie meer in demokrasie nie?

Phillip Fourie ·

Wil julle nou vir my se dat omdat Krim se Russiese meerderheid, in ‘n ander land se grondgebied, sommer met ‘n “kits demokratiese verkiesing” ‘n land kan opbreek?

Dan is daar mos ‘n moontlikheid dat ‘n Afrikaanse meerderheid (se nou maar) in ‘n land soos Namibie summier mag oorneem? Of dan miskien ‘n provinsie soos die Wes-Kaap?

Ons moet ‘n bietjie dink …. :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.