Rusland, VN kap Facebook-besluit oor gewelddadige plasings  

Facebook Meta (Foto: Verskaf)

Die Verenigde Nasies (VN) het sy kommer uitgespreek oor Facebook se besluit om sy beleid oor gewelddadige uitlatings tydelik te verslap ná Rusland se inval in Oekraïne terwyl Rusland gesê het hy sal ʼn strafregtelike saak teen Meta aanhangig maak.

Die VN meen Meta se verslapping van Facebook se beleid kan tot haatspraak teen Russe lei. Rusland het gesê hy sal ʼn saak aanhangig maak weens Meta se “beroep vir die moord” op Russe en dat Facebook en Instagram se moedermaatskappy sy reëls verslap het rakende gewelddadige boodskappe wat op Rusland se weermag en leiers gerig is.

Meta het gesê die platforms sal nou stellings soos “dood van Russiese indringers” toelaat, maar nie geloofwaardige dreigemente teen burgerlikes nie.

“Dit is duidelik ʼn baie, baie komplekse kwessie, maar dit wek wel ʼn paar bekommernisse onder die bepalings van menseregtewetgewing en internasionale humanitêre reg,” het Elizabeth Throssell, ʼn  VN-woordvoerder, aan verslaggewers in Genève gesê.

“Ons het tydelik voorsiening gemaak vir vorme van politieke uitdrukking wat normaalweg ons reëls sou oortree, soos gewelddadige uitlatings,” het Meta vroeër in ʼn verklaring gesê. Volgens Meta sal “geloofwaardige oproepe vir geweld teen Russiese burgers” nie toegelaat word nie.

Throssell het gewaarsku dat die nuwe beleid nie duidelik is nie en “beslis kan bydra tot haatspraak gerig op Russe in die algemeen”. Volgens Throssell sal die VN met Meta in gesprek tree hieroor.

Rusland se ondersoekkomitee wat groot misdade ondersoek, het gesê daar is met ʼn ondersoek begin “weens onwettige oproepe vir die moord op Russiese burgers deur werknemers van die Amerikaanse maatskappy Meta”.

Rusland se aanklaerskantoor het ook versoek dat die internetreus as “ekstremisties” gebrandmerk word en het gevra dat Instagram in die land blokkeer word.

Die kantoor het gesê “materiaal word op Instagram versprei wat oproepe bevat vir die pleeg van gewelddadige dade teen die burgers van Rusland, insluitend militêre personeel”.

Rusland se mediawaghond Roskomnadzor is versoek om “toegang” tot Instagram te beperk.

Facebook en Instagram word wyd in Rusland gebruik, laasgenoemde is die gewildste sosialemediaplatform vir jong Russe. Twitter en Facebook is egter sedert vroeg Maart ontoeganklik in Rusland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Die weste (en SA) is inelkgeval vrot van die propaganda teen Rusland. Hoop maar net mense het geleer uit covid dat mens die westerse media maar met alternatiewe verslae soos uit Rusland in die geval moet balanseer. Selfs op Afrikaanse media word dit maar baie eensydig aangebied, en Russiese verslae afgemaak as “fopnuus”, om Radio PTA aan te haal. Intussen swyg dieselfde media oor ander oorloë waar die Weste verwoesting saai.

Marthinus

Ek kan verstaan dat mense en lande vies is vir Rusland, maar om gewone Russe nou te teiken is nie goed nie. Selfs die sanksies teiken nou doelbewus die gewone Russiese burgers. Die Weste se onderrok hang ver uit.

annie

Die situasie raak al meer skrikwekkend. Nie net biowapens nie ook atoomkragnavorsingseenhede wat Oekraïene nou self vernietig om dit te verdoesel. Zelensky is nou uitgevang as leuenaar. Nuland erken in die senaat dat daar biowapennavorsing in die land is gerugsteun deur die VSA en hy ontken dit ten sterkste. Die man is ongelooflik gevaarlik. Zelensky verskyn deesdae alleen op tv. Is hy nog in sy eie land?

Marius

Niemand stap uit enige oorlog uit as oorwinnaar nie. As een lewe afgestaan is het jy klaar verloor.