Rusland waarsku oor WWIII

Die Russiese president Wladimir Poetin (Foto: Mikhail Klimentyev / SPUTNIK / AFP)

Ná gerugte dat die Verenigde State en bondgenote nóg wapens na Oekraïne wil stuur, het Rusland gewaarsku dat dit dalk tot die uitbreek van die Derde Wêreldoorlog kan lei.

Sedert Rusland Oekraïne einde Februarie ingeval het, het verskeie Westerse moondhede bankvas agter Oekraïne gestaan. Dié nasies was egter tot dusver huiwerig om hul betrokkenheid te verdiep, uit vrees om ʼn konflik met Rusland aan te wakker.

In ʼn gesprek met Russiese nuusagentskappe het Moskou se minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov, gewaarsku dat die risiko van ʼn Derde Wêreldoorlog “ernstig” is. Hy het ook Kiëf se benadering om vredesonderhandelinge in die wiele te ry, gekritiseer.

“Die idee van ʼn Derde Wêreldoorlog is die werklikheid,” het Lavrov gesê.

Pres. Wolodimir Zelenski vra Oekraïne se Westerse bondgenote reeds maande lank vir ekstra wapentuig – waaronder artillerie en vegvliegtuie – en belowe dat sy magte die verloop van die oorlog met meer vuurkrag kan keer.

Dit lyk asof dié oproepe nou weerklank vind, met ʼn magdom van die lande verbonde aan die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) wat beloof om ʼn reeks swaar geskut en toerusting te verskaf.

Die Pentagon se hoof, Lloyd Austin, en Amerika se minister van buitelandse sake, Antony Blinken, het die afgelope naweek na Kiëf gereis om Zelenski te ontmoet. Hulle het hulp van $700 miljoen (R10 miljard) aan Oekraïne aangebied.

Op uitnodiging van die Verenigde State sal 40 lande ook Dinsdag ʼn veiligheidsberaad in Duitsland hou om die stuur van nóg wapens na Oekraïne te bespreek. Onder die genooide lande is Europese bondgenote van die Verenigde State, maar ook Australië en Japan.

Dood en verwoesting

Ondanks die diplomatieke gewoel, sterf burgerlikes steeds in gevegte wat oor die oorloggeteisterde Oekraïne woed.

Minstens vyf mense is Maandag dood en nog 18 gewond ná ʼn Russiese vuurpylaanval wat spoorweginfrastruktuur in die sentrale Oekraïne-streek van Vinnytsia geteiken het.

Die hoof van Oekraïne se spoorweë, Alexander Kamyshin, het vroeër die aanvalle bevestig en Moskou se weermag daarvan beskuldig dat hulle die land se spoorweginfrastruktuur “stelselmatig” vernietig.

Tientalle mense is vroeër vandeesmaand dood in Russiese stakings op ʼn treinstasie wat gebruik word vir ontruimings in die oostelike stad, Kramatorsk.

Oekraïne se tweede stad, Kharkiv, bly gedeeltelik omsingel met Russiese magte. Rusland se poging om deur te breek na Zaporizhzhia, in die ooste van die land, het egter misluk.

Intussen het die goewerneur van ʼn Russiese streek wat aan Oekraïne grens, Kiëf daarvan beskuldig dat hy een van sy dorpe gebombardeer het, waar twee burgerlikes beseer en verskeie huise beskadig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

Pierre ·

Lankal n Wereld Oorlog dit word miskien nie met wapens beveg nie maar sanksies en almal betaal die prys van verhogende kostes

Marius ·

Dit voel na ‘n sinnelose oorlog en of daar iemand êrens sit en die situasie gebruik en manipuleer om ‘n ander agenda te bevorder.

Reinald ·

Wat van dié antwoord:
Liewe Rusland, die oomblik dat julle die inval staak, sal ons onmiddellik staak om wapentuig te lewer!
Vriendelike groete, NAVO.

Marthinus W ·

Navo is n soustrein. Lees wat voormalige Amerikaanse offisier Mark Sloboda oor Navo skryf. Sonder oorlog kan hulle nie bestaan nie. Hulle sal n ander oorlog soek. Oekraine is bankrot, maar biljoene dollar se wapens word verskaf. Dis waansin.

Kobus ·

Goei oplossing, maar merk op die Putin ondersteuners hou nie van die idee nie. Blykbaar kan Putin enige land inval en vernietig, maar gaan ander land durf terug te skiet nie, baie soos sy maat Kim, dreig hy met kernoorlog as hy nie sy sin kry nie. Putin gaan ook nie stop by Oekraïne nie, reeds sy oog op Maldova.

twaalfboor ·

Dit help veel wapentuig en swaar geskud word verskaf en daar in nie die kapasiteit om dit te hanteer nie. Dis elkgeval lafhartig om wapentuig te verskaf en te sê “daar, fight nou”.

JohanR ·

My maat jy beter nie daai knoppie druk want dan is die hel rerig los! As jy dink die Oekraine het nie te sleg gevaar teen jou magte nie, wag maar vir die NAVO lande. Meer bek as binnegoed die ou!

Treurwilger ·

Dink jy China en ‘n heel paar ander gaan stil sit en toekyk?

Marthinus W ·

Indien n kernoorlog sou uitbreek – waarvoor ons almal moet bid nie gebeur nie – sal Rusland moontlik Brussel eerste aanval: die EU-parlement en Navo- se HK word uitgehaal. Twee brommers met een klap. Dan is Navo soos n afkophoender.

Anel ·

So, volgens die goeverneur kan Rusland maar die Oekraïne aanval, maar Oekraïne mag nie Rusland terug aanval nie? Wie baat wat by oorlog? Die hele wêreld is verloorders!!! Veral onskuldige mense! So sinneloos!!!!

Pieter ·

wat is die punt nou actually van hierdie hele ding? Ek kan net nie verstaan hoekom dit in die eerste plek gebeur het nie… Voel vir my hulle soek verskonings om verder te baklei? om dit te laat escalate…

VaalDonkie ·

Dit het begin toe Zelenski versuim het om die 2014 ooreenkoms met Rusland te eerbiedig. Hulle het belowe om die Donbas onafhanklik te maak en NIE by NAVO aan te sluit nie.

Marthinus W ·

Koop aandele in Amerikaanse wapenvervaardigers, bv Raytheon, Grumman, Lockeehd Martin, ens. Hulle lag al die pad bank toe. (gaan kyk bietjie hoe hulle aandeelprys gestyg het die afgelope twee maande) Pres Eisenhower het in 1961 in sy vaarweltoespraak gewaarsku teen die “military-industrial complex”, m.a.w. die wapenvervaardigers. Hulle pomp biljoene dollars in senators in Congress se sakke in, sodat hulle oorlog kan maak en wapens nodig het. [dit klink soos ‘n James Bond fliek, maar dis ongelukkig die wrede werklikheid] Kyk ook hoeveel oud-generaals nou vir hulle werk.

Willem ·

Wat het Rusland dan nou eintlik verwag? Dat die Oekraïners sal stilsit sodat die russe lekker kan voortgaan om hul land te verwoes?? KEN hierdie man die betekenis van die woord “OORLOG”? RUSLAND behoort uit elke internasionale organisasie geskop te word sonder die moontlikheid van hertoelating.

Thom ·

Alle klein mannetjies wat op een of ander manier in ‘n magsposisie kom is ‘n totale pyn in die nek.! Hulle dreigemente is eintlik maar’ n erkenning dat hulle besig is om die oorlog te verloor.

Mariaan ·

So sit die manne met die dasse en stry oor snert terwyl hope mense doodgaan…en julle in jul kantore…reuse huise…veilig en warm! Waar is jul menslikheid??? Voel vere vir lewe..vrouens..kinders..seuns wat MOET veg…en julle met die dasse kyk rustig toe…Tipiese Hitler style…tragies!!

Chantel ·

Dit bly vir my ‘n hartseer storie, maar ek dink nie die volle waarheid word weerspieël in die nuus nie. Ek het lank gesit en gesels met mense wat uit daai gebiede kom en dit het verseker my siening totaal en al verander. Ons aan hierdie kant sien slegs dit wat die nuus wil he ons moet sien om nie eers te praat van hoor nie.

MT ·

@Chantel

Korrek, maar onthou: geen alternatiewe narratief – soms ook genoem die waarheid – word geduld nie! Om selfs daaroor te wonder, kan gevaarlik wees.

Jaco ·

Uiters vreemd dat die ANC so min of meer vir Rusland steun. Rusland wil basies die etnies-Russiese dele van die Oekraïne beset en beskerming teen sogenaamde slegte behandeling vanaf die Oekraïne. Draai dié nou om en pas dit op SA toe: ‘n ander land val SA aan om ‘n einde te maak aan die onderdrukking van wit mense en kleurlinge in die Wes-Kaap.
Die ANC is vol dubbele standaarde: blykbaar is Rusland se “beskerming” van Russe in die Oekraïne reg. Blykbaar is die skep van ‘n Palestynse staat reg. Blykbaar is die outonomie wat China aan Hong Kong en Macao gee ook reg. Net wit mense in SA wat vra vir outonomie/selfregering is egter verkeerd, rassisties en “vol apartheid”.

piet ·

Kyk, hier is nou ‘n goeie toets vir Siener van Rensburg se voorspellings. Ek het dit onlangs gelees. Hy’t voorspel dat die 3de wereldoorlog gaan begin (reeds bietjie laat, sou volgens hom al vroeer begin het) wanneer Rusland (hy het dit reeds reg) vir Oostenryk binneval. Rusland gaan grootliks verslaan word deur Duitsland (met lasertegnologie) en China (wat hulle gaan verras met vinnige voertuie op die grond) maar nie voor Rusland kernbomme laat afgaan nie (wat ondermeer ‘n gedeelte van die aardkors gaan wegskiet en ‘n gedeelte van Brittanje gaan wegvee). Verrassend dat China teen Rusland gaan veg maar dis wat hy voorspel het. Amerika gaan die spulletjie oplaas opruim en die wanorde herstel. Daar het julle dit nou, kry solank julle popcorn reg en ons kyk of die Siener reg was.

piet ·

Nou ‘n verdere interessantheid. Hoekom Oostenryk? Lees bietjie en jy sal sien dat Oostenryk as die “tonnel” tussen Rusland en die res van Europa beskou word. Meeste van die Russiese oliemagnate se bankrekeninge is daar en Oostenryk was die eerste Europese land wat Russiese olie ingevoer en steeds op grootskaal berg. Italie se olie en ander Europese lande se olie kom regstreeks van Oostenryk se bergingsfasiliteite af. Oostenryk was altyd neutraal maar nadat Rusland Oekraine ingeval het, het Oostenryk hom sterk uitgespreek teen die inval en het Rusland hulle saam met die ander lande wat beswaar gemaak het teen die inval op Rusland se lys van “vyandige lande” gesit. Interessant inderdaad.

Misky ·

Dankie vir die link @piet. Ek vind dit baie interresant en sal graag gaan oplees.

Nici ·

Siener se voorspellings het nie so goed uitgewerk vir die boere nie huh? Klink meer soos Rasputin.

Mariana ·

Maar hoe dink Rusland dan. Moet almal terugsit ek kyk hoe onskuldige mense sterf en niks aan die saak doen nie. Die magshonger en gierige Putin het dit begin en nou moet hy dit beeïndig anders gaan hy en sy land se mense die prys betaal. Die wêreld draai nie net om Rusland nie, daar is ander lande wat gaan inspring want almal word geraak.

Frank John ·

Ja, die derde wêreld oorlog is reeds aan die gang. Rusland doen wat hul wil want die res van die wêreld is te bang om te wys dat hul reeds besig is om te help veg teen Rusland. Rusland weet dit. Amerika kannie gaan veg daar nie want McDonald’s is nie daar om hul kos te geen nie.

Jaco ·

As SA so min of meer kant kies vir Rusland in die Rusland-Oekraïne konflik, dan kan SA mos aanhou om goedkoper olie direk van Rusland af in te voer. Waarom, as ons regering dan pro-Rusland is, styg ons petrolprys dan ook so kwaai? Iets maak regtig nie sin nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.