Rusland wil bande met VSA herstel

President Wladimir Poetin van Rusland Foto: Rusland-regeringskantoor

President Wladimir Poetin van Rusland Foto: Rusland-regeringskantoor

Pres. Wladimir Poetin van Rusland het in sy gelukwensingsboodskap aan die VSA met die Amerikaanse Vryheidsdagvieringe, witvoetjie gesoek. Hy wil die bande met die VSA herstel, en het ook aangedui dat die twee lande elkeen ‘n groot verantwoordelikheid het in die handhawing van stabiliteit in die wêreld, en dat hulle moet saamwerk.

Dit volg kort na ‘n beraad tussen Rusland, Duitsland, Frankryk en die Oekraïne waarin vordering gemaak is om vrede in die Oekraïne te bewerkstellig. Dit sluit in dat Rusland onderneem het om druk op die separatiste in die Oekraïne uit te oefen om tot sinvolle vredesonderhandelinge toe te tree. Dit is deur telefoniese samesprekinge tussen pres. Barack Obama en kanselier Angela Merkel opgevolg.

Tot dusver was die opstandelinge baie hardkoppig om tot vredesonderhandelinge toe te tree. Dit is ‘n ope geheim dat hulle gehoop – en selfs aanvaar het dat Rusland volskaals tot die konflik sou toetree, en die oorwegend Russiessprekende dele van die Oekraïne sou beset op ‘n soortgelyke wyse as wat met die Krim-skiereiland gebeur het.

Die Oekraïne het verlede week ‘n skietstilstand wat hy self eensydig uitgeroep het, na tien dae opgeskort toe dit herhaaldelik deur die separatiste geskend is. Dit het voorts geblyk dat die separatiste hulself verskans het.

Sedert die beëindiging van die skietstilstand het die weermag van die Oekraïne met mening toegeslaan, en na berig word is sowat 150 separatiste in aanvalle dood.

Die jongste nuus is dat die separatiste nog nie tot samesprekings met die Oekraïne bereid is nie, maar onregstreekse samesprekinge sal oorweeg. Hulle sal alleenlik via Rusland en die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa, waartoe Rusland ook behoort, toetree.

Bronne: Trouw, Christin Science Monitor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.