Rusland wil nuwe ruimtestasie bou

Internasionale ruimtestasie (Foto: NASA – STS-135 Shuttle Mission via Wikimedia Commons)

Rusland beplan om ʼn nuwe ruimtestasie te bou omdat die huidige internasionale ruimtestasie (IRS) nog slegs ʼn dekade lank sal hou, het die hoof van die Russiese ruimteagentskap Roscosmos Maandag in ʼn onderhoud gesê.

“Dit is nog nie duidelik of [die nuwe ruimtestasie] internasionaal of nasionaal gaan wees nie,” het Dmitry Rogozin, hoof van Roscosmos, gesê in kommentaar wat deur die Russiese koerant Komsomolskaya Pravda gepubliseer is.

Volgens Rogozin sal die IRS nog slegs ʼn verdere sewe tot 10 jaar operasioneel kan wees. Die IRS, met dele wat deur Rusland en die VSA gebou is, is al die afgelope twee dekades in volgehoue gebruik.

Die wentelende laboratorium is ʼn samewerking van grootliks Amerikaanse en Russiese bemanningslede wat wetenskaplike navorsing doen wat nie op die Aarde se oppervlak moontlik is nie. Dit is ʼn unieke bron van samewerking tussen die twee mededingende magte.

Rogozin het nie ʼn tydlyn verskaf vir die nuwe Russiese ruimtestasie nie. Hy het gesê die kwessie, of dit internasionale bemanningslede ook sal huisves, sal binnekort aangeroer word.

“Die tegniese voorbereiding is veronderstel om nou te begin,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

hierdie reusagtige land se ekonomie is eintlik maar dieselfde grootte as Spanje s’n, maar hulle het geld vir ‘n ruimtestasie. Vreemd…

Retha ·

Al die onheilige goed wat in die ruimte aangaan, wat soek die mens wat op aarde geplaas is, in die buitenste ruimte. Ons moet nie verbaas wees oor al die virusse wat losgelaat word nie. God het die mens hier gesit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.