Oekraïne se staatsagentskap vir die bestuur van die uitsluitingsone het Sondag gesê Russiese magte wat die Tsjernobil-kernaanleg beset het, het radioaktiewe middels uit navorsingslaboratoriums gesteel.
Moskou se magte het op 24 Februarie, op hul eerste dag van die inval in Oekraïne, die aanleg beset. Hulle het die hoogs radioaktiewe sone vir meer as ʼn maand beset voor hulle op 31 Maart onttrek het.
Die agentskap het intussen op Facebook aangevoer dat Russiese soldate twee laboratoriums in die gebied geplunder het. Volgens die agentskap het die Russe ʼn stoorplek van die navorsingsbasis betree en 133 hoogs radioaktiewe middels gesteel. “Selfs ʼn baie klein deeltjie van dié aktiwiteit is dodelik as dit onprofessioneel hanteer word.”
German Gulashchenko, Oekraïne se minister van energie, het vroeër vandeesweek gesê Russiese soldate het hulself blootgestel aan ʼn “skokkende hoeveelheid” van kernbestraling en sê sommige van hulle het waarskynlik minder as ʼn jaar om te leef.
“Hulle het in die grond, wat met bestraling besmet is, gegrawe en radioaktiewe sand in sakke versamel. Hulle het die stof ingeasem,” het Gulashchenko Vrydag op Facebook gesê ná hy die uitsluitingsone besoek het.
“Ná ʼn maand van só blootstelling, het hulle maksimum een jaar van lewe oor. Wel, nie lewe nie, maar ʼn stadige dood weens siektes,” het die minister gewaarsku.
Hy sê Russiese weermagtoerusting is ook besmet. “Die onkunde van die Russiese soldate is skokkend.”
Die wêreld se ergste kernramp ooit het in 1986 by die Tsjernobil-kernaanleg plaasgevind.
Pous vra ‘Paasskietstilstand’ in Oekraïne
Pous Franciskus het Sondag ʼn skietstilstand oor Paasfees in Oekraïne versoek om die weg te baan vir vrede deur “regte onderhandeling”.
“Laat die Paasskietstilstand begin. Moenie nog wapens verskaf en weer begin baklei nie. Nee! ʼn Skietstilstand sal tot vrede lei, deur ware onderhandeling,” het hy tydens ʼn openbare mis by die Sint Pietersplein in die Vatikaan gesê.
Die pous het die oorlog veroordeel waar “weerlose burgers gruwelike slagting en gruwelike wreedheid” beleef.
“Watter oorwinning is daar om ʼn vlag te plant op ʼn hoop gemors?” wou hy weet.
Franciskus het Woensdag reeds veroordeel dat burgers in Oekraïne geteiken word. Hy het ook sy bereidwilligheid bekendgemaak om ʼn bydrae te lewer en is gereed om na Kiëf te reis.
Uitruil van gevangenes
Oekraïne het Saterdag gesê hy het ʼn derde uitruiling van gevangenes met Rusland afgehandel en 12 soldate en 14 burgerlikes huis toe gebring.
Moskou sê Russiese soldate het ook op ʼn Oekraïense vaartuig gevuur wat gepoog het om bevelvoerders van die Azof-battaljon uit Marioepol te ontruim.
Die Azof- spesiale operasies-eenheid veg teen Russiese magte in Marioepol, ʼn gebied tussen die Russies-besette Krim en die pro-Russiese separatiste streke in Oekraïne se ooste.
- Carte Blanche fokus Sondag 10 April op die konflik in die Oekraïne. Ná twee weke op die pad in Oos-Europa wat ʼn gevaarlike kruising na Oekraïne insluit, vertel Carte Blanche-vervaardiger Anina Peens en kameraman Pierre le Roux, die stories van die mense wat hulle langs die pad ontmoet het. Deur die span se lens kan hulle die stories vertel van burgerlikes se lewe in die oorlog waarvan die uitwerking reg oor die wêreld weerklink het. Onthou om in te skakel vir Carte Blanche op DStv kanaal 101 of die DStv-app elke Sondag om 19:00. Volledige episodes is ook op Catch-up beskikbaar.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
14 Kommentare
Baie van die Russiese soldate is agterlike mense wat eenvoudig geen ander heenkome het as Poetin se moordbendes nie , waar hulle enigste ambisie die volgende bottel vodka is ___ hulle weet nie eers wat radio-aktiwiteit is nie , hoe sal hulle nog weet hoe om sulke materiaal te hanteer ?
Kommuniste en kriminele is een en dieselfde.
Dit is onverstaanbaar hoe Russiese soldate hulle ‘doelbewus’ aan radioaktiewe stowwe kan blootstel! Die waarheid sneuwel gewoonlik eerste in ‘n oorlog.
Russiesie idiote. Geen wonder die ANC is so lief vir hulle nie. Beide het NIKS tussen die ore nie.
Oekraïnense organisasie sê dit was Russiese soldate en Rusland kry nie ‘n kans om te antwoord of reageer nie. Eensydige stellings deur Oekraïne en sal mens ooit die waarheid hoor?