Russe terug uit die ruimte ná verfilming

Yulia Peresild verlaat die tuig in Kazachstan. (Foto: Handout / Russian Space Agency Roscosmos / AFP)

ʼn Russiese aktrise en rolprentregisseur het Sondag na die aarde teruggekeer nadat hulle 12 dae by die Internasionale Ruimtestasie (ISS) deurgebring het om tonele te skiet vir die eerste fliek in die ruimte.

Yulia Peresild (37) en Klim Shipenko (38) het volgens beeldmateriaal wat regstreeks deur Rusland se Roscosmos-ruimteagentskap uitgesaai is, soos beplan Sondag om 04:36 GMT in Kazachstan geland.

Shipenko het benoud voorgekom maar het die tuig glimlaggend verlaat en het vir die kameras gewuif voordat hy deur mediese beamptes vir ʼn ondersoek weggelei is.

Peresild, wat die hoofrol in die fliek vertolk en uit sowat 3 000 aansoekers gekies is, is luid toegejuig toe sy die tuig verlaat het en is ʼn bos blomme in die hand gestop.

Yulia Peresild en Anton Shkaplerov verlaat die tuig in Kazachstan. (Foto: Handout / Russian Space Agency Roscosmos / AFP)

Die aktrise het gesê sy was “hartseer” om die ISS te verlaat. “Dit het gevoel asof 12 dae lank is, maar aan die einde van dié tydjie wou ek dit nie verlaat nie,” het sy aan ʼn Russiese televisiekanaal gesê.

Die ruimtevaarder Anton Shkaplerov (49) was ook aan boord om die fliek getiteld The Challenge te skiet. Volgens vorige berigte sou die fliek The Call heet.

Maroela Media het vroeër berig die hoofdoel met dié reis is om die eerste rolprent in die ruimte te maak – voordat die Amerikaners hulle kan voorspring.

As alles volgens plan verloop sal die Russe na verwagting die Mission Impossible-ster Tom Cruise en die Hollywood-regisseur Doug Liman probeer klop nadat hulle projek saam met Nasa en SpaceX, maatskappy van miljardêr Elon Musk, verlede jaar aangekondig is.

Die Russiese aktrise Yulia Peresild. (Foto: Facebook)

Die missie was egter nie sonder klein haakplekke nie. Toe die rolprentspan vroeër vandeesmaand by die ISS aangekom het, moes Shkaplerov na beheer met die hand oorskakel.

Toe die Russiese vlugbeheerders Vrydag ʼn toets op die Soyuz MS-18-ruimtetuig uitgevoer het, het die tuig se skroef onverwags afgevuur en die ISS vir 30 minute gedestabiliseer, het ʼn woordvoerder vir Nasa aan die Russiese nuusagentskap Tass gesê.

Die span se landing, wat gedokumenteer is deur ʼn rolprentspan, sal ook in die fliek te sien wees, het Konstantin Ernst, hoof van die Kremlin-vriendelike Channel One TV-netwerk en medevervaardiger van The Challenge, aan AFP gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Barney ·

Sy was vir 12 dae onder verdowing. Daar is nie ń ISS nie. Dis alles ń leun om jou kluisenaar te hou van jou ware doel hier op aarde.

Ronel ·

En jy glo ook seker nog aan die tandemuis en kersvader? Flat earther uit die boonste rakke

Annelize ·

Ag genade Barney, was jy nou weer te lank in die son met jou Tin Foil hoedjie op? Jy behoort teen more se kant weer sin te praat.

haimish ·

Huh?!?! Gits dalk biedjie met die ertjie gekap teen die kop

Henning ·

Barney, al wat nie waar is nie is “Kazachstan” dit moet Kazakhstan wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.