Russiese ambassadeur in Turkye doodgeskiet

Mevlut Mert Altintas (22) in die galery skree krete nadat hy Rusland se ambassadeur in Turkye, Andrei Karlov, op 19 Desember 2016 in Ankara doodgeskiet het Foto: AP Photo/Burhan Ozbilici (Let daarop dat Maroela Media die foto digitaal verklein het om die ambassadeur se liggaam weg te steek vir sensitiewe kykers)

Mevlut Mert Altintas (22) in die galery skree krete nadat hy Rusland se ambassadeur in Turkye, Andrei Karlov, op 19 Desember 2016 in Ankara doodgeskiet het Foto: AP Photo/Burhan Ozbilici (Let daarop dat Maroela Media die foto digitaal verklein het om die ambassadeur se liggaam weg te steek vir sensitiewe kykers)

ʼn Skieter het Maandag krete oor Sirië se burgeroorlog geskree nadat hy Rusland se ambassadeur in Turkye voor geskokte toeskouers by ʼn foto-uitstalling in Ankara doodgeskiet het.

ʼn Fotograaf van Associated Press, Burhan Ozbilici, het die skietery sien plaasvind.

Die skieter, Mevlut Mert Altintas (22), was die afgelope twee jaar ʼn aktiewe lid van die onlustepolisie en sy filiasies word nog ondersoek, het Suleyman Soylu, Turkye se minister van binnelandse sake, gesê.

Ambassadeur Andrei Karlov (62) was al ʼn paar minute lank besig met sy toespraak by die uitstalling toe Altintas minstens agt skote gevuur het, volgens Ozbilici, die AP-fotograaf in die gehoor.

“Moenie Aleppo vergeet nie, moenie Sirië vergeet nie,” het die skieter uitgeskree, met verwysing na die Siriese stad waar Russiese bombardemente rebelle uit gebiede gedryf het wat hulle al jare lank deur die loop van die oorlog beset.

Hy het ook “Allahu akbar” geskree, die Arabiese frase vir “god is groot” en bygevoeg: “Ons is die afstammelinge van diegene wat die profeet Muhammad vir jihad ondersteun het.”

Altintas het Karlov genader toe hy op die grond gelê het en hom minstens nog een keer van naby geskiet, het Ozbilici bygevoeg. Die aanvaller het ook verskeie van die fotorame gebreek.

Volgens NTV-televisie in Turkye is minstens drie ander persone in die aanval beseer. Persone het paniekerig begin vlug toe die skote geklap het.

Altintas het daarna na die tweede verdieping van die gebou geklim en hy en die polisie het 15 minute lank op mekaar geskiet voor hy dood is, het Turkye se Anadolu-nuusagentskap berig.

Die aanval kom ʼn dag voor die ministers van verdediging en buitelandse sake van Rusland, Turkye en Iran in Moskou sou vergader om die kwessie in Sirië te bespreek. Rusland en Iran het die Siriese president Bashar Assad deur die loop van die ses jaar lange konflik ondersteun, maar Turkye ondersteun sy teenstanders.

“Dit is ʼn tragiese dag in die geskiedenis van ons land,” het Maria Zakharova, woordvoerder van Rusland se buitelandse ministerie, gesê. “Ambassadeur Karlov het talle persoonlike bydraes gelewer vir die ontwikkeling van bande met Turkye. Hy het baie gedoen om ʼn krisis in betrekkinge te oorkom. Hy het met hart en siel gewerk. Dit is ʼn tragiese verlies vir ons en die wêreld.”

Karlov het in 1976 by die diplomatieke diens aangesluit. Hy het tussen 2001 en 2006 as Rusland se ambassadeur in Pyongyang gedien, en was later hoof van die ministerie van buitelandse sake se konsulêre departement. Hy dien al sedert 2013 as sy land se ambassadeur in Turkye.

John Kirby, woordvoerder van die Amerikaanse staatsdepartement, het gesê Amerikaanse beamptes is bewus van die skietery. “Ons veroordeel hierdie geweld, wat ook al die oorsaak is.”

Die Verenigde Nasies het ook die voorval veroordeel. “Daar kan geen regverdiging wees vir ʼn aanval op ʼn ambassadeur nie,” het Stephane Dujarric, woordvoerder van die VN, gesê.

Die leiers van die twee lande, presidente Wladimir Poetin en Recep Tayyip Erdogan, is al die afgelope paar maande in gesprek om die gespanne verhouding tussen die twee lande te oorkom. Russiese oorlogsvliegtuie is in November 2015 by die Siriese grens afgeskiet en Turkye het vroeër vanjaar om verskoning gevra om die verhouding te verbeter.

Rusland en Turkye het ook saam die ontruiming van burgers en rebelle uit Aleppo gefinansier en die moontlikheid bespreek om weer vredesgesprekke te voer in Astana, Kazakstan.

Turkye sukkel die afgelope paar jaar met verskeie veiligheidsdreigemente, insluitend Koerdiese militante wat aanspreeklikheid aanvaar het vir ʼn bomaanval op 10 Desember in Istanbul waartydens 44 mense dood is.

Die Islamiese Staat wat in Sirië in Irak baklei, word ook beskuldig van aanvalle in Turkye.

Turkse veiligheidsmagte en howe bly besig om staatsinstellings te suiwer van ondersteuners van ʼn uitgeweke Islamitiese geestelike wat in Julie maand ʼn mislukte staatsgreeppoging uitgevoer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Azuni ·

Dis baie goed gedokumenteer in die geskidenis aan al die kante om die waarheid te sê. As jy dink ek lieg, soek op vir Ernst vom Rath. I diplomaat wat deur ‘n Poolse Jood dood geskiet is. Lyk my ek het dit so bietjie mis gehad wel. Dit het die wraak van Duiters op gewakker wat Joode winkels vernietig het (hulle het dit die Kristallnacht genoem), maar was ook een van die redes wat gebruik was om te regverdig om die Jode in konsentrasie kampe te gooi (alhoewel nie die enigste rede was nie). Ek wonder of as daai sluip moord nooit gebeur het nie, of daar enige verskil in WW2 sou wees? Wie weet.

As jy nog ‘n voorbeeld wil hê van hoe ‘n sluip moord ‘n oorlog kan veroorsaak, kyk ook na die sluip moord op Archduke Franz Ferdinand van Austria-Hungry in 1914. Een sluip moord/een partoon het WW1 veroorsaak.

Hierdie mense moet dink oor hulle aksies. Darm het dit geen impak tussen Rusland en Turkey se verhouding veroorsaak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.