Russiese atlete by Paralimpiese Winterspele weggewys

Andrew Parsons, president van die Internasionale Paralimpiese Komitee. Foto: Wang Zhao/AFP.

Die wêreldwye druk op Russiese sportmanne en -vroue het vandag toegeneem toe die Internasionale Paralimpiese Komitee (IPK) aangekondig het dat die land se atlete nie meer by die komende Paralimpiese Winterspele in Beijing welkom is nie.

Oekraïne is verlede week deur Russiese magte ingeval en verskeie lande het intussen gedreig om die Spele te boikot. Die atlete van Belarus – Rusland se bondgenoot in die oorlog – is in dieselfde bootjie as die Russe.

Dit is ’n merkwaardige wending – die IPK het gister nog aangedui dat die betrokke atlete neutraal onder ’n Paralimpiese vlag aan die internasionale skouspel mag deelneem; ’n sportster word nie as die “aggressor” in militêre konflik beskou nie.

Die internasionale sportbeheerliggaam moes egter inderhaas sy besluit heroorweeg.

Die Spele begin môre en daar is reeds 71 Russiese atlete in Beijing, terwyl Belarus ’n span van 12 atlete in die stad het.

“Die IPK glo sport en politiek behoort van mekaar geskei te word.  Maar oorlog het nou na die Spele gekom en baie regerings het agter die skerms ’n invloed op ons geliefde skouspel,” het Andrew Parsons, IPK-president, in ’n verklaring gesê.

“’n Oorweldigende aantal lede was in die afgelope 12 uur met ons in verbinding en ek is dankbaar vir hul eerlikheid. Hulle het aangevoer dat indien ons nie ons besluit heroorweeg nie, daar moontlik ernstige gevolge vir die Spele sal wees.”

Volgens Parsons is die atlete se welstand die beheerliggaam se hoofprioriteit.

“As die Russiese en Belarussiese atlete in Beijing aangebly het, sou ander lande waarskynlik hul spanne onttrek het en die Spele sou daaronder gely het.”

Hy het bygevoeg dat daar ’n onaangename atmosfeer in die atletedorp geheers het. Die Spele gaan immers nie net oor goue, silwer‑ of bronsmedaljes nie; dit moet ook ’n sterk boodskap van inklusiwiteit uitstuur.

Hy was egter simpatiek jeens die atlete van Rusland en Belarus.

“Ons is baie jammer dat ’n regering se besluit om die Olimpiese verdrag te verontagsaam só ’n invloed op julle het.  Julle is die slagoffers van jul regering se optrede.”

Valeriy Sushkevych, voorsitter van Oekraïne se Paralimpiese komitee, het die besluit verwelkom.

“’n Regverdige besluit is geneem; ’n besluit teen die land wat hierdie oorlog begin het,” het hy in ’n nuuskonferensie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Marius ·

Goeie besluit.Hul regering moet pa staan vir die boikotte teen rusland.

JohanEtz ·

Sou ons burgerlikes deur die buitewêreld afgesny, geban en gekortwiek word deur ons regering se hebsug, onvermoë en korrupsie??
Moet ons PA staan?

Boertjie ·

Duidelik onthou jy nie die sanksies wat teen ons ingestel is onder die vorige bedeling nie. Jan Publiek moes die slae vat vir die keuses wat die regering van die dag gemaak het..

Ettienne ·

Nee Marius, hierdie mense wat hulle jare lank voorberei het, staan pa vir hul regering se besluit. In terme van jou denke sou dit dus aanvaarbaar wees wanneer iemand verwag dat jy pa staan vir Apartheid?

Andrew ·

So nou waar laat dit Afrikaner volgens jou een kam benadering

Johan ·

Ons is nader aan n enkele wereldmag oorheersing as wat ek gedink het. Hoeveel lande het Navo en die VSA nie al platgeskiet nie, waar was die druk groepe toe? Rusland kon nog altyd dit so bietjie balanseer (Syria en Iran bv gehelp) maar eks bevrees ons is besig om daai balans te verloor.

VaalDonkie ·

Toemaar ons moet nog China ook in ag neem. Ek laaik vir China nog minder as vir Rusland, maar dis belangrik dat daar meer as een wereldmag is om die ander in toom te hou.

Andrew ·

En Indie. Sien Amerika wil nou Indie “cancel” omdat hulle wapens koop by die Russe.

Drico ·

Ja nè?! En daar verkoop die IPC hul siel ter wille van n Spele…
Snaaks watter houvas sport op n land kan hê. So n klompie jare terug het SA ook n klompie sanksies teen ons gehad, maar ag wat, dit het nie baie gepla nie en ons was nogsteeds vooruitstrewend….MAAR toe besef die buitewêreld en ANC hoe belangrik sport vir ons is. Met die 1st dreigement dat SA nie weer internasionaal sal mag deelneem aan enige sport of spele nie….toe gee ons sommer die land oor, sommer net so! Snaakse wêreld waarin ons leef…

Moedeloos ·

Ek kry elke liewe sportman/vrou bitter jammer. Hul kan nie verantwoordelik gehou word vir hul regering nie. Maar nou ja Politiek is n lelike ding en steek sy neus in alles.

Herman ·

Weet hulle dat die SA regering ook bondgenote is van die Russe?

stargazer ·

America wat miljoene mense vermoor het met hulle regime change reg oor die wereld, is nooit verban uit enige iets nie, ook nie aangekla by die ICC nie. Aikona

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.