Russiese Grand Prix van die baan

Argieffoto van die Russiese Grand Prix in Sochi. (Foto: Twitter)

Die Russiese Grand Prix is gekanselleer weens Rusland se inval in Oekraïne.

Die FIA het Donderdagaand met die betrokke Formule Een-spanne en ander belanghebbendes vergader en daartydens is besluit “dat dit onmoontlik is om die Russiese Grand Prix in die huidige omstandighede te hou”, lui ’n verklaring op Formule Een se Twitterblad.

“Ons hou die verwikkelinge in Oekraïne met hartseer en skok dop en hoop vir ’n vinnige en vreedsame oplossing vir die huidige konfliksituasie.”

Die Russiese Grand Prix sou op 25 September in Sochi plaasvind.

Formule Een se besluit volg kort nadat die verdedigende wêreldkampioen Max Verstappen en die viermalige kampioen Sebastian Vettel tydens voorseisoentoetse in Barcelona gesê het dat hulle teen die Russiese wedren gekant is.

“Dit sal nie reg wees om daarheen te gaan wanneer ’n land oorlog voer nie,” het Verstappen gesê.

Vettel het op sy beurt gesê hy sál nie gaan nie. “Ja, daar is ’n Russiese wedren op die F1-kalender, maar ek sal nie gaan nie. Ek dink dit is nou verkeerd om in Rusland deel te neem,” was die Duitse renjaer se woorde.

“Ek is jammer vir al die onskuldige mense wat hul lewe verloor. Hulle word om dom redes en weens baie vreemde en mal leierskap doodgemaak.”

Die Amerikaanse Formule Een-span Haas – met ’n Russiese renjaer, Nikita Mazepin – het Vrydag op die laaste dag van voorseisoentoetse aangekondig dat hul motors voortaan nie die Russiese kleure van sy titelborg Uralkali ten toon sal stel nie.

Dit sou die laaste Russiese Grand Prix in Sochi wees. Die wedren is sedert 2014 in dié stad aangebied, maar sou vanaf volgende jaar na Sint Petersburg verskuif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eclectus ·

Dis nou nie asof dit Putin in sy vodka gaan laat stik nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.