Russiese helikopter stort neer met toeriste

Reddingswerkers op die toneel in die verre ooste van Rusland.

Dit word gevrees dat agt mense moontlik omgekom het toe ’n helikopter toeriste op ’n besigtiging van ’n vulkaan in Rusland geneem en in ’n nabygeleë meer neergestort het.

Die Russiese regering het Donderdag bekend gemaak dat ’n Mi-8-helikopter met 16 mense – 13 toeriste en drie bemanningslede – in ’n natuurreservaat by die bergagtige Kamchatka-skiereiland neergestort het.

“Agt mense is gered; twee van hulle is in ’n ernstige toestand,” lui ’n verklaring deur Alexander Zabolichenko, ʼn senior amptenaar in die betrokke streek.

Luidens mediese bronne kon die lot van agt van die passasiers egter nog nie bepaal word nie. Die ergste word nou gevrees.

Die helikopter het die groep toeriste ten tyde van die voorval na Khodutka, ’n vulkaan naby die stad Petropavlovsk-Kamchatsky, geneem. Die helikopter het egter in die Kuril-meer neergestort.

Sowat 40 reddingswerkers en duikers is na die toneel ontplooi om bystand te verleen.

Die Russiese ondersoekkomitee, wat vliegongelukke in Rusland ondersoek, ondersoek intussen die moontlikheid dat lugreëls oortree is.

Rusland het in die verlede ’n swak reputasie gehad wat lugveiligheid betref, hoewel dit sedert die 2000’s aansienlik verbeter het. Dít nadat die land se grootste lugrederye die skuif van verouderde Sowjetvliegtuie na meer moderne vliegtuie gemaak het.

Swak onderhoud en swak nakoming van veiligheidsreëls kwel egter steeds.

’n Vliegtuig van ’n klein plaaslike maatskappy het net verlede maand ook op die skiereiland neergestort. Dié vliegongeluk het die lewe van 19 mense geëis.

’n Russiese vliegtuig het in Mei 2019 aan die brand geslaan tydens ’n noodlanding op die Sheremetyevo-lughawe in Moskou. Altesame 41 mense het toe sterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Sal liewers verkies om nie op ‘n Russisie vliegtuig of helikopter te klim nie dankie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.