ʼn Toonaangewende koerant in Rusland het ʼn verskoning op sy voorblad gepubliseer waarin hy vergifnis vra vir die mense van Nederland wat geliefdes in Vlug MH17 verloor het.
Die koerantopskrif lui, “Vergeef ons, Nederland”, met ʼn hartroerende foto van die lykswaens wat slagoffers van die ramp vervoer. Die foto is Woensdag geneem toe die eerste liggame na Nederland vervoer is om uitgeken te word. Duisende mense het eer kom betoon.
Die liberale Russiese koerant is bekend vir sy teenkanting teen pres. Wladimir Poetin.
Vlug MH17 van Malaysia Airlines is vermoedelik neergeskiet. Rusland ontken steeds dat hy enige rol gehad het.