Russiese missiele teiken weer woonbuurt in Kiëf

Een van die geboue wat getref is. (Foto: Sergei Supinsky/AFP)

Russiese missielaanvalle het vroeg Sondagoggend ʼn woonbuurt in die Oekraïense hoofstad Kiëf getref en talle mense onder die puin begrawe. Vier mense, onder wie ʼn sewejarige dogtertjie, is reeds in ʼn hospitaal opgeneem.

Die aanval kom net ure voordat ʼn G7-beraad in Duitsland begin het.

Vitali Klitschko, burgemeester van Kiëf, sê vier ontploffings is om 06:30 in ʼn buurt naby ʼn wapenfabriek gehoor. Lugaanvalsirenes het ʼn halfuur voor die aanval in die stad lui begin loei.

Dié aanval kom drie weke ná die laaste aanval op Kiëf.

Die boonste drie verdiepings van ʼn tienverdiepinggebou in die Shevchenkivsky-woonbuurt is heeltemal vernietig en verskeie brande het ná die aanval uitgebreek.

Etlike ure later het brandbestryders steeds gespook om twee brande in die gebied in bedwang te bring.

Vier mense is reeds uit die puin gered, onder wie ʼn jong dogtertjie wat op die negende verdieping van die gebou gebly het. Die dogtertjie se ma is ure later gered. Volgens reddingspanne was die ma onder ʼn betonblad vasgekeer.

Dié vrou is na bewering ʼn Russiese burger wat in haar 30’s is. Sy is in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal geneem.

Klitschko sê reddingspogings is steeds aan die gang en dat dit moontlik is dat die aantal beseerdes en sterftes binnekort kan styg.

Volgens owerhede het nog ʼn missiel ʼn nabygeleë kleuterskool getref, glo sonder enige ongevalle.

Oekraïne se minister van buitelandse sake, Dmytro Kuleba, het gesê die “G7-beraad moet reageer met meer sanksies teen Rusland en meer swaar wapens vir Oekraïne” in die lig van die jongste aanval op Kiëf.

Dit is die derde keer sedert die aanvang van die konflik tussen Rusland en Oekraïne dat Kiëf se Shevchenkivsky-woonbuurt deur missiele geteiken is.

Die buurt is in Maart aangeval en weer einde April tydens ʼn besoek deur die VN se sekretaris-generaal Antonio Guterres. Die aanval het die lewe van ʼn Oekraïense joernalis geëis.

Die woonbuurt is naby die Artem-wapenaanleg, wat aan die einde van die 19de eeu opgerig is en lug-tot-lug-missiele en anti-tenkvuurpyle vervaardig.

Die laaste Russiese aanval op Kiëf was vroeër vandeesmaand toe ʼn fabriek aan die buitewyke van die hoofstad geteiken is. Een persoon is in dié aanval beseer.

(Foto: Genya Savilov/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

andre ·

Lees RT news vir n ander perspektief oor wat hier gebeur het .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.