Russiese opposisieleier met ‘senumiddel’ vergiftig

Alexei Navalny (Foto: Pavel Golovkin, AP)

Die Duitse regering het Woensdag gesê die Russiese opposisieleier en aktivis Alexei Navalny is met die dodelike senumiddel Novichok vergiftig. Dit is dieselfde tipe senumiddel uit die Sowjet-era wat gebruik is in ’n aanval op ’n voormalige Russiese spioen in 2018.

Angela Merkel, die Duitse kansellier, eis nou antwoorde van die Kremlin wat deur Navalny se span van sy vergiftiging verdink word.

“Dit is duidelik dat Alexei Navalny die slagoffer van ’n misdaad is. Hulle wou hom stilmaak en ek veroordeel dit ten sterkste namens die Duitse regering,” het Merkel gesê.

Die Russiese regering ontken egter die bewerings en versoek dat Duitsland alle inligting bekend maak rakende Navalny se behandeling.

Navalny is steeds in ’n koma in ’n hospitaal in die Duitse hoofstad Berlyn nadat hy verlede maand op ʼn vlug na Moskou skielik siek geword het.

Volgens die Duitse regering toon toetse deur ’n Duitse militêre laboratorium dat ’n chemiese senumiddel uit die Novichok-groep gebruik is om Navalny te vergiftig.

Novichok is dieselfde soort gif wat die voormalige spioen Sergei Skripal en sy dogter destyds in Engeland ingekry het. Pa en dogter het dié aanval wonderbaarlik oorleef.

“Daar is nou baie ernstige vrae wat net die Russiese regering kan en moet beantwoord,” het Merkel gesê.

Die Verenigde Koninkryk en Italië het intussen ook ’n beroep op Rusland gedoen om te verduidelik wat gebeur het. Die Britse premier, Boris Johnson, bestempel die gebruik van ’n chemiese wapen as “verregaande”.

Volgens Josep Borrell, die Europese Unie se hoof van buitelandse sake, is die gebruik van chemiese wapens ’n oortreding van internasionale wetgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Human

Don Tantrum Trump is doodstil, geen wonder, want dit gaan oor sy maatjie Putin, met wie hy hand om die blaas staan en wat moet help dat die Don die verkiesing wen. Die Russiese en Amerikaanse Mafia is nou een.

annie

Nee, Trump het wel gereageer maar nie so oorhaastig soos die Russiese opposisieparty wat sommer gewèèt het hul leier is vergiftig toe hy so skielik siek geword het en die trippie na Duitsland klaar gereèl. Hoe naìef kan mens word nadat jy ‘n paar Bond-flieks gesien het. Duitsland en sy antie wil Rusland steeds terugkry vir die nederlaag in WW11. Kan mens ook so naìef wees om te glo dat net Hitler ‘n oorlog vir 7+ jaar gevoer het en geen ander Duitser betrokke was nie? Diegene wat ook so naìef is om te glo dat Biden en Harris oulike… Lees meer »

Human

Wat het Biden en Harris met die vergiftiging te doen ? Hulle is nie in beheer van die VSA, Die man in beheer(choas) is Don Tantrum Trump wat sy tyd verdryf deur alle samesweringsteoreë aantehang en te bevorder.

Johann

Wat sê mens as Putin jou tee aanbied? Jy sê nee dankie!