Russiese opposisieleier ‘nié vergiftig’

Dr. Alexander Murakhovsky spreek Vrydag die Russiese media in Omsk toe. (Foto: AP Photo/Evgeniy Sofiychuk)

Die Russiese opposisieleier en aktivis Alexei Navalny (44) is nog té siek om na ʼn hospitaal in Duitsland oorgeplaas te word. Dít terwyl dokters nou hul bedenkinge het of hy wel vergiftig is.

Navalny is tans in ʼn koma en aan ʼn ventilator gekoppel in ʼn hospitaal in Omsk in Rusland nadat hy Donderdag op ʼn vlug na Moskou begin siek voel het. Die vliegtuig het ʼn noodlanding in Omsk gedoen en hy is onmiddellik in die hospitaal opgeneem.

Aktiviste in Duitsland het intussen ’n vliegtuig gestuur om Navalny na Berlyn te vervoer vir behandeling. Die vliegtuig het mediese toerusting en ʼn span wat spesialiseer in die behandeling van komapasiënte aan boord.

Alexander Murakhovsky, hoofdokter by die hospitaal in Omsk, het egter Navalny se toestand Vrydag as “onstabiel” bestempel en aanbeveel dat sy pasiënt in dié stadium nié na ʼn ander hospitaal oorgeplaas word nie. “Ons veg almal om die lewe van ons pasiënt.”

Alexei Navalny (Foto: Pavel Golovkin, AP)

Anatoly Kalinichenko, adjunkhoof van die hospitaal, het intussen gesê daar is geen bewyse dat Navalny vergiftig is nie.

“Geen gifstowwe of spore van gif is in sy sisteem gevind nie. Ek veronderstel dat ʼn diagnose van vergiftiging steeds in ons agterkop is, maar ons dink nie dat die pasiënt vergiftig is nie,” het Kalinichenko gesê.

Diegene na aan Navalny hou egter vol dat die Russiese opposisieleier vergiftig is op die Tomsk-lughawe voordat hy sy vlug na Moskou gehaal het. Navalny het tee by ʼn kafee op die lughawe gedrink net voordat hy op die vliegtuig geklim het.

Navalny se woordvoerder, Kira Yarmysh, het in ʼn verklaring gesê die dokters se versoek dat Navalny nie vervoer moet word nie, is ʼn vertragingstaktiek sodat die gif in sy sisteem later nie meer opgespoor kan word nie. “Elke uur van vertraging skep egter ʼn kritieke bedreiging vir sy lewe,” het sy gesê.

Angela Merkel, die Duitse kanselier, het nou vir duidelikheid gevra oor Navalny se siektetoestand.

Navalny is een van pres. Wladimir Poetin se vernaamste en mees uitgesproke kritici. Hy is ook ʼn prokureur en aktivis teen korrupsie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Nou weet ek by wie het die ANC die klomp snert geleer die hele ANC is vergiftig dit is hoekom hulle so plunder.

Anel ·

Geen normale mens wil ook deur hulle gedokter word nie. Hulle is maar baie onbevoeg wil dit my voorkom.

4ntj13 ·

Daar was elders berigte dat die klein hospitaaltjie in Omsk nie toegerus is om sulke gevalle toepaslik te kan hanteer nie. Hulle wou nie eens sy vrou by hom toelaat nie. Dis hoekom sy mense so erg aandring sy lewe is in gevaar in die plek. Kan hulle senuweegif akkuraat identifiseer? En Polonium? Wat keer hulle om die diagnose bekend te maak anders as dat dit mag bewys iemand wil die opposisieleier doodmaak?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.