Russiese opposisieleier uit koma gebring

Alexei Navalny (Maart 2010) (Foto: AP Photo/Alexander Zemlianichenko, File)

Die Russiese opposisieleier en aktivis Alexei Navalny is uit ʼn medies geïnduseerde koma gebring en reageer nou op spraak. Dít byna drie weke nadat Navalny (44) vermoedelik met die dodelike senumiddel Novichok vergiftig is.

Duitse dokters by die hospitaal in Berlyn waar die opposisieleier tans behandel word, het egter gewaarsku dat langtermyngevolge van die vergiftiging nie uitgesluit kan word nie, berig SkyNews.

“Die pasiënt is uit sy koma gebring en word van meganiese ventilasie gespeen. Hy reageer op mondelinge stimuli. Dit is egter nog te vroeg om die potensiële langtermyngevolge van sy ernstige vergiftiging te bepaal,” het die Charité-hospitaal Maandag in ʼn verklaring gesê.

Die hospitaal het in oorleg met Navalny se vrou, Yulia Navalnaya, besluit om sy toestand bekend te maak.

BBC berig Dominic Raab, die Britse minister van buitelandse sake, het intussen gesê die Verenigde Koninkryk het die Russiese ambassadeur in dié land ontbied om sy kommer oor Navalny se vergiftiging uit te spreek.

Maroela Media het vroeër berig Navalny het verlede maand op ʼn vlug na Moskou onverwags siek geword. Die Kremlin word deur Navalny se span van die vergiftiging verdink aangesien Novichok dieselfde soort senumiddel uit die Sowjet-era is wat in ʼn aanval op ʼn voormalige Russiese spioen in 2018 gebruik is.

“Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat ʼn verbode chemiese wapen gebruik is en Rusland behoort ʼn volledige en deursigtige ondersoek te doen,” het Raab gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.