Russiese rolprentspan daag by ruimtestasie op

Yulia Peresild, Klim Shipenko en Anton Shkaplerov by die Baikonur Cosmodrome in Kazachstan, Rusland. (Foto: Handout / Russian Space Agency Roscosmos / AFP)

ʼn Russiese aktrise en regisseur het Dinsdag by die Internasionale Ruimtestasie (ISS) aangekom om ʼn 12 dag lange missie af te skop om die eerste rolprent in die ruimte te maak.

In Soyuz-ruimtetuig, met aktrise Yulia Peresild (36) en regisseur Klim Shipenko (38) asook die ruimtevaarder Anton Shkaplerov aan boord, het later as wat beplan is by die ISS aangekom nadat hulle na handbeheer oorgeskakel het.

Hulle sou aanvanklik om 12:12 GMT by die ruimtestasie opgedaag het. Die lansering het by Rusland se Baikonur Cosmodrome in Kazachstan plaasgevind en is regstreeks op Russiese televisie uitgesaai.

Maroela Media het vroeër berig die hoofdoel met dié reis is om die eerste rolprent in die ruimte te maak – voordat die Amerikaners hulle kan voorspring.

As alles volgens plan verloop sal die Russe na verwagting die Mission Impossible-ster Tom Cruise en die Hollywood-regisseur Doug Liman probeer klop nadat hulle projek saam met Nasa en SpaceX, maatskappy van miljardêr Elon Musk, verlede jaar aangekondig is.

“Ek wil nie net hê ons moet eerste wees nie, maar ook die beste,” het Peresild voorheen aan AFP gesê.

The Call, die voorlopige titel van die Russiese projek, is in September verlede jaar aangekondig, slegs vier maande ná die Hollywood-projek.

Die storielyn van die fliek handel oor ʼn dokter wat dringend na die ISS ontbied word om ʼn ruimtereisiger te red.

The Call se begroting is ook nie bekend gemaak nie, maar dit is geen geheim dat dit ʼn duur onderneming is nie: Een sitplek op ʼn Soyuz-vuurpyl na die ISS kos Nasa miljoene dollar.

Peresild ondergaan sedert Mei vanjaar intensiewe opleiding by die Yuri Gagarin-opleidingsentrum in Star City buite Moskou.

Die klein rolprentstel van die ISS sal ʼn uitdagende ruimte wees om in te werk, veral vir die regisseur, wat ook die kameras, beligting, klank en grimering sal beman.

Peresild het erken sy het “bang” gevoel toe sy gekies is vir die werk uit 3 000 kandidate. “Ek is nie ʼn superheld nie,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.