Russiese soldate glo gemartel

Oekraïense soldate aan die ooste van Kharkiv. (Foto: Fadel Senna/AFP)

Oekraïense en Russiese owerhede het onderneem om die beeldmateriaal wat wys hoe Russiese krygsgevangenes na bewering deur Oekraïense soldate gemartel word, te ondersoek.

Die video’s, wat nog nie amptelik geverifieer is nie, doen die afgelope tyd die ronde op sosiale media nadat die voorval verlede maand aan die lig gekom het.

In die video’s kan gesien word hoe beweerde Oekraïense soldate skynbaar drie Russe uit ʼn voertuig trek voordat elkeen in die been geskiet word.

Die Oekraïense militêre bevelvoerder, genl. Valerii Zaluzhnyi, het Rusland daarvan beskuldig dat hy die video’s gefabriseer het, berig The Guardian.

“Die vyand [Rusland] vervaardig en deel video’s van die onmenslike behandeling van beweerde Russiese gevangenes deur Oekraïense soldate om die Oekraïense verdedigingsmagte in oneer te bring,” het hy gesê.

Die regering in Kiëf het gesê dat hy nietemin bewerings van mishandeling “baie ernstig” opneem en dat ondersoek onmiddellik ingestel sal word.

“Ons is ʼn Europese weermag, en ons dryf nie die spot met ons gevangenes nie. As die beeldmateriaal inderdaad eg is, is dit absolute onaanvaarbare gedrag,” het Oleksii Arestovich, ʼn raadgewer van Oekraïense president Wolodimir Zelenski, gesê.

“Ek wil al ons militêre, burgerlike en verdedigingsmagte opnuut daaraan herinner dat die mishandeling van gevangenes ʼn oorlogsmisdaad is wat geen amnestie ingevolge militêre wetgewing het nie en nie verjaar nie.”

Dmitri Peskov, die Kremlin se woordvoerder, het intussen gesê dat die Russiese regering ʼn ondersoek na die voorval begin het.

Hy het die beelde wat in die video’s gewys word as “afskuwelik” beskryf en dat diegene wat daaraan deelgeneem het, verantwoordelik gehou moet word.

Gevangenes glo verbrand

ʼn Bekende Oekraïnse joernalis, Yuri Butusov, het sedert die voorval aan die lig gekom het, ʼn grafiese video gepubliseer waarin die verkoolde oorskot van drie liggame gewys word.

Die liggame is glo dié van die Russiese soldate wat in die beweerde martelingsvideo gewys word, berig The Intercept.

ʼn Visuele ontleding van Butusov se video wys dat die verkoolde liggame in dieselfde gebied aangetref is as dié in die video van die gevangenes wat geskiet word.

BBC het vroeër bevestig dat die beweerde marteling by ʼn melkery in Malaya Rohan aan die suidooste van Kharkiv plaasgevind het. Die gebied is onlangs weer deur Oekraïense troepe teruggeneem nadat Russiese magte dit beset het.

Die kronologiese volgorde van gebeure kan nog nie bevestig word nie, maar Butusov beweer dat hy kort ná die voorval op die toneel was. Teen dié tyd was van die suiwelfabriek se geboue deur ontploffings en ʼn brand vernietig. Dieselfde strukture was nog nie beskadig toe die video van die beweerde martelings verfilm is nie.

Rusland ontken oorlogsmisdaad

Rusland het intussen bewerings dat hy ʼn oorlogsmisdaad in die dorp Bucha buite die hoofstad Kiëf gepleeg het, ontken.

Dit kom nadat Zelenski Rusland daarvan beskuldig het dat hy volksmoord op Oekraïense burgers gepleeg het. ʼn Massagraf met minstens 57 liggame is in Bucha aangetref, terwyl nog lyke in die strate gevind is. Die Russiese weermag het onlangs uit die hoofstad en ander dorpe teruggetrek.

Rusland se ministerie van verdediging het gesê dat “nie ʼn enkele plaaslike inwoner” in Bucha onder geweld gely het nie terwyl Russiese magte daar in beheer was, berig AFP.

Die ministerie beweer dat Oekraïne self sy suidelike voorstede gebombardeer het en dat beelde van lyke in ʼn vervalste produksie verfilm is.

Moskou vra nou vir ʼn spesiale vergadering van die VN se veiligheidsraad “in die lig van gruwelike uitlokking van Oekraïense radikale in Bucha,” het Rusland se adjunk-ambassadeur van die VN gesê.

Brittanje, Frankryk, Duitsland, Italië en die Europese Unie het sedertdien gevra dat diegene wat vir die Bucha-moorde verantwoordelik is, by die internasionale tribunaal in Den Haag voor die hof gebring moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Samuel ·

Sal ons ooit die waarheid weet? Die waarheid sneuwel eerste in enige oorlog.

Anna-marie ·

Oekraiene is besig om die propaganda oorlog te wen (met die VSA se hulp natuurlik) . Poetin is besig om die ekonomiese oorlog te wen én die werklike oorlog.

Thom ·

My Liefie , jy WIL dit graag anders hê maar Oekraïene is besig om alles te wen __ ek het vriende in Donetsk en self daar kry did Russe pak.

MT ·

@Thom, ons is verheug dat jou vriende veilig is, en selfs in staat is om ‘n oordeel te fel oor wie nou eintlik baas is in hierdie Russiese wegbreek republiek.

Marthinus W ·

Ek het n berig van n Duitse joernalis gesien waar die burgers in die Donbas die Russe met trane verwelkom as hulle redders. Dis so in enige oorlog: party is bly vir die redding, ander sien hulle as invallers.

Ian ·

Dis snaaks hoe die twee lande nou stry oor oorlogs misdade. As Rusland uit daai land uitgebly het sou daar nou nie so n probleem gewees het nie. Oekraiene behoort nie aan Rusland nie en met al hul geliegery voor hulle die land ingeval het is dit nou maar net al klaar n bewys dat Rusland net nooit die waarheid kan praat nie dus hul geloofwaardigheid is bedenkbaar op die oomblik.

Anna-marie ·

Eerder as Amerika uit daai land gebly het, was daar nie nou ‘n oorlog nie.

Lourens CFG ·

Geen mens “verdien” om mishandel te word nie.
Maak nie saak aan watter kant hy is nie.

Wat op dees Aarde ·

Oog vir ‘n oog, tand vir ‘n tand. Is dit nie wat Die Bybel sê nie?

Lourens CFG ·

Dit is reg ja, dit is wat die Bybel sê, maar op die regte, wetlike manier.
Nie sommer net uit vergelding nie, dan is dit verkeerd.

MT ·

@Wat op dees Aarde

Wat was Jesus se antwoord in die Bergpredikasie op hierdie?

Dries ·

MM vertel ons liewer meer van die Russiese soldate wat al die geplunderde besiitings van die Ukrainse publiek verkoop in Belarus. Dit is n werklike misdaad

gpsa ·

Ek dink Amerika sit baie meer agter hierdie oorlog as wat mens besef. Dis waarom Zelenskyy so opgehef word. Hy is hulle pion daar. Kyk na die wapens wat gebruik word teen Rusland. Die Javelin misiele teen tanks en Kamakazi drones om paar ter noem. ‘n Land soos Okraine kan nie daai soort wapens besit nie. Ek dink Amerika maak oorlog teen Rusland met Okraine mense.

MT ·

Baie akkurate waarneming. Op Engels word dit ‘n ‘proxy war’ genoem.

Met die 2014 CIA-geleide kleurrevolusie, is ‘n anti-Russiese regering inforseer, en was die tafel gedek vir vandag se oorlog.

En soos jy tereg noem, word daar met Amerikaanse en NAVO geld, wapens, kundigheid, militere raadgewers en huursoldate teen Rusland geveg.

Zelenski se rol is bloot om mooi-klinkende klank en beeldgrepe aan CNN en BBC te verskaf, waarmee die res van die wereld opgesweep kan word.

minnie muis ·

dis n groot land wat n klein land inval … en toe verbaas was dat die klein land terug bakle , net soos die lesotho fiasko van paar jaar terug deur SA se onregmatige inval in lesotho , dieslefde storie

Pierre ·

hulle lieg nie as hulle se “nie ʼn enkele plaaslike inwoner” is leed aangedoen nie…daar was honderde.

Marius ·

Niks ander as vuil propaganda van die kommunistiese russe nie. Het hul verwag om genooi te word vir koek en tee ? Wat van die massa grafte wat ondek word wasr die russe onttrek ? Die vieslike gemors het geen eer of trots nie.

Marthinus W ·

Soos die Amerikaanse soldaat Scott Ritter oor hierdie insedent gister geskryf het: laat almal net eers kalm word, dan kan ons meer objektief na die bewyse kyk, en dan die skuldiges, ongeag wie dit is, aanvat.

Die EU het n taakpspan aangestel om saam met Oekraine dit te ondersoek – wat beteken dat alles toegesmeer en op Rusland gepak gaan word, ongeag wie die skuldige is. Dit moet egter vandag of more gedoen word, sodat die bewyse nie kan verouder en versleg en n forensiese toets dop nie.

E ·

All is fair in love and war – jammer oor die engels, maar ja dit is nou wat gebeur as daar oorlog in ‘n land is- alle menslikheid vlieg by die venster uit! Hierdie video dink ek persoonlik is deur Ukrainiers gemaak om die russiese soldate te intimideer en te laat vlug. (as dit nou wel russiese soldate is en nie mense van ukraine nie, hoop dat geen ouers die videos sien nie. Ek self kyk glad nie na enige wreed aardige videos nie, sal nooit kan slaap nie.

Byekonfyt ·

“Every war is a war against children” – Eglantyne Jebb

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.