Russiese sport kry die wind van voor

Rusland het in 2018 die Wêreldbeker-sokkertoernooi aangebied. Hier is Wladimir Poetin (Russiese president) en Gianni Infantino (Fifa-president) by die beroemde trofee. Foto: Alexey Nikolsky/Sputnik/AFP.

Ondanks sport se sogenaamde onafhanklikheid is dit steeds ’n kragtige politieke wapen.

Nadat Rusland verlede week Oekraïne ingeval het, het verskeie wêreldsportbeheerliggame hul misnoeë oor pres. Wladimir Poetin se optrede uitgespreek.

In die jongste verwikkelinge kry Russiese sportmanne en -vroue ongetwyfeld die wind van voor.

Rugby:

Rusland se deelname aan die komende Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk hang aan ’n baie dun draadjie nadat Wêreldrugby die land se aggressiewe militêre optrede veroordeel het.

Die internasionale rugbybeheerliggaam het in ’n verklaring gesê dat Rusland saam met Belarus uit alle internasionale rugbyaangeleenthede tot verdere kennisgewing geskors is.

Die Russiese rugbyunie is ook vir eers nie meer deel van Wêreldrugby se lidlande nie.

“Die wêreldwye rugbyfamilie staan saam met almal wat deur hierdie diep ontstellende gebeure geraak word en doen ’n oproep vir die herstel van vrede,” het die verklaring gelui.

Rusland se vyftiental was deel van die vorige Wêreldbeker-aksie in Japan, maar hulle moet nog vir die komende toernooi in Frankryk kwalifiseer. Hulle is tans vyfde in die Europese Rugbykampioenskap, terwyl hulle 25ste op Wêreldrugby se amptelike ranglys is.

Volgens Wêreldrugby is hy in verbinding met die Oekraïense rugbybeheerliggaam en sal hy die land se rugbygemeenskap ondersteun.

Sokker:

Rusland is verder uit die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Katar geskop, terwyl sy sokkerspanne ook uit alle internasionale sokkerkompetisies tot verdere kennisgewing geskors is.

Die land se sokkerspan was veronderstel om binnekort kwalifiserende wedstryde vir die komende Wêreldbeker-toernooi te speel, terwyl sy vrouespan in Julie aan die Europese Kampioenskap moes deelneem.

Die wêreld se twee groot sokkerbeheerliggame – Fifa en Uefa – het in ’n gesamentlike verklaring gesê dat alle Russiese spanne vir eers nie meer deel van internasionale wedstryde sal wees nie.

“Sokker is ten volle verenig en staan in solidariteit met almal wat in Oekraïne deur Rusland se militêre optrede geraak word. Dit is Fifa en Uefa se hoop dat die situasie vinnig sal verbeter en dat sokker weer ’n vektor vir eenheid en vrede onder almal kan wees.”

Rusland was in 2018 gasheer vir die internasionale sokkerskouspel.

Atletiek:

As dit nie die gebruik van opkikkers is nie, dan is die oorlogsplanne. Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) het lank reeds ’n stormagtige verhouding met Rusland.

Nou meen die IOK dat atlete van Rusland en Belarus nie meer aan internasionale byeenkomste mag deelneem nie.

“Om die integriteit van internasionale sportkompetisies te beskerm en vir die veiligheid van alle deelnemers glo die IOK se uitvoerende raad dat alle internasionale sportverenigings en -organiseerders nie atlete van Rusland of Belarus na byeenkomste moet nooi of toelaat nie. Dieselfde geld ook vir beamptes,” is daar in ’n verklaring gesê.

Taekwondo:

Poetin se ere-swartgordel is deur dié sport se internasionale beheerliggaam teruggetrek.

Wêreld-taekwondo veroordeel die Russiese president se optrede en die meegaande inval van Oekraïne; dit is in stryd met die sport se waardes van respek en verdraagsaamheid.

“Daarom het Wêreld-taekwondo besluit om die ere-swartgordel (negende dan) wat in November 2013 aan mnr. Poetin toegeken is, terug te trek. Geen vlag of volkslied van Rusland of Belarus sal by kompetisies toegelaat word nie.”

Tennis:

Daniil Medvedev, die wêreld se voorste mansspeler, het gister om vrede gepleit.

“Vandag wil ek namens elke kind in die wêreld praat. Hulle het soveel drome en nuwe dinge om te ervaar; daarom vra ek vir vrede in die wêreld en vrede tussen lande.

“Kinders het ongelooflike vertroue en hulle is so onskuldig – hulle glo in mense, in liefde, vryheid en regverdigheid. Kom ons staan saam en wys vir hulle dat dit inderdaad so is, want kinders moet nooit ophou droom nie,” het die 26-jarige Rus gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Adriaan ·

Die VSA het sedert 2001 n gemiddeld van 46 bomme / missiele PER DAG op ander lande laat neer reën.

Hoekom is hulle nooit geskors / geboikot nie?

Kalmkop ·

Sedert 1945 het VSA ongeveer ‘n 3de vd wêreld se bevolking gebombandeer sonder enige gevolge… Dubbele standaarde

Renier ·

Want VSA se regering, soos die meerderheid van regerings die wereld oor, is korrup, geldgierig en blatant skelm.

Luister ·

Die verskil is, die VSA het “probeer” om te help in daardie lande (of dit nou reg of verkeerd is) en siviele lewensverlies so laag moontlik probeer hou. Hulle het ook nooit die doel gehad om te annekseer nie. Rusland maak dood voor die voet sodat hulle ‘n land kan oorneem.

Kalmkop ·

Dis nou volgens CNN, BBC, Sky en al die ander Westerse media sentrums… Krap bietjie verder… Hoekom word RT byvoorbeeld geblok om uit te saai in Europa? Kan of mag mense nie beide kante sien en dan vir jouself besluit nie?

Thom ·

Ek kyk al jare lank RT en hulle hou nie van die waarheid nie maar is darem gereeld geweldig snaaks .

Kalmkop ·

Wat is die waarheid….? Lê gewoonlik iewers in die middel… ????

Hippi ·

Om sy ere gordel weg te neem gaan hy in ellende in krepeer en dadelik sy magte terugtrek?
Sekere “strafte” wat hulle op ou Putin neerlè is om van te lag.
Die man vee sy gat aan die wèreld af!

Die mense wat onder die oorlog lei is die mense wat in die lande woon.
Politiesie speel GOD om hulle eie egos te streel.

Dieselfde geld vir die klomp narre wat in ons land het.

piet ·

Nie noodwendig nie. Ouens met ‘n groot ego soos Putin sal dit meer voel as nederige mense.

Harley Davidson ·

Ek dink nie puten en die russe is so ruggraatloos soos die Suid-Afrikaanse mense wat sport verafgot ongeag die prys wat daarvoor betaal word nie.

Marthinus W ·

Sport is nou `n deel van oorlogvoering. In plaas daarvan dat clans teenoor mekaar stelling ineem en aanval, staan hulle op die sportveld, en verinneweer mekaar. WADA, die hoogheilige “anti-doping” outoriteit is outonoom, hulle kan soewereine state maak of breek. Hulle vertel egter nie vir almal van die Amerikaners en ander lande se atlete wat opkikkers gebruik nie. Want dis nou oorlog.

Vir diegene van ons wat ouer as 40 is, is hierdie deja vu: dit, liewe jongmense, is presies die roete wat met Suid-Afrika gevolg is deur die anti-aparheidsmense wereldwyd. (En ons weet nie almal van ons was en is sleg nie, nes die Russe.)

Harley Davidson ·

Hoekom word sa sport nie ook geboikot nie hulle kies spanne gebaseer op velkleur so wat maak dit anders as Rusland?

Andre ·

Ek stem! Dis so goed ANC maak oorlog teen die land se sport!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.