Russiese vliegongeluk was ‘terreuraanval’

'n Wrakstuk. Foto: Suliman el-Oteify, kantoor van die Egiptiese premier via AP

‘n Wrakstuk. Foto: Suliman el-Oteify, kantoor van die Egiptiese premier via AP

Die Russiese vliegtuig wat in Egipte neergestort het, was die gevolg van ʼn terreuraanval, het Rusland se Federale Staatsveiligheidsdiens (FSB) bekend gemaak.

Alexander Bortnikov, die hoof van die FSB, het aan Rusland se pres. Vladimir Poetin gesê ʼn tuisgemaakte bom het op die vliegtuig afgegaan en dit laat neerstort. “Volgens ons kenners het ʼn tuisgemaakte ploftoestel wat gelykstaande is aan 1 kg TNT aan boord die vliegtuig ontplof. Dit het daartoe gelei dat die vliegtuig in die lug uitmekaar gebreek het. Ek kan met sekerheid sê dit was ʼn terreuraanval.”

Al 224 mense aan boord die vliegtuig, van wie die meeste Russiese toeriste, het omgekom toe die vliegtuig op 31 Oktober in die Sinai-skiereiland, ʼn ylbevolkte woestynstreek tussen die Rooisee en die Middellandse See, neergestort het. Daar het oor ʼn groot terrein wrakstukke gelê nadat die vliegtuig neergestort het.

Poetin het intussen beloof om die skuldiges vas te trek. “Daar is geen wet van beperkings hiervoor nie, ons moet almal se name vasstel. Ons gaan oral soek, waar ook al hulle wegkruip. Ons sal hulle vind, enige plek op aarde, en hulle straf.”

Die Islamitiese Staat (IS) het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. Volgens die IS was die aanval in weerwraak van Rusland se lugaanvalle op die IS en ander groepe in Sirië.

Die IS het ook verantwoordelikheid aanvaar vir Vrydagaand se aanvalle in Parys waarin 129 mense dood en meer as 350 beseer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Griki ·

Ek wil graag sien wie van IS en Rusland gaan hier wen. Rusland het nie ‘n saak met menseregte en die veiligheid van onskuldiges nie (net soos IS). As hy wil wraak neem en oorlog maak, gaan hy GROOT.

wim ·

IS aanhangers en IS MOET uit die weg geruim word. Doen groot skade aan verhoudings tussen Moslems en ander sooriges.

Strydom-:Stryslim eerder ·

Wie dink julle vermoor meer, IS of die mense in SA? So wie is erger terroriste…net ons sin beheer die land!

Nettie ·

Ek verbaas my dat ‘n groot meerderheid van Maroela-lesers die ISIS-aanvalle in Frankryk en Djihadisme met misdaad en plaas-aanvalle in SA vergelyk. Wat reg is is reg; wat verkeerd is, is verkeerd – toegegee. Maar sien die gebeure in konteks. Misdaad is misdaad, of dit nou diefstal, inbraak, moord, dwelmhandel of wat ookal is. Niemand ontken dat plaas-aanvalle in SA gebeur nie. Jy kan dit egter nie vergelyk met aanvalle deur Djihadiste of ISIS nie (bv. amper 3 000 mense in 9/11 en hoeveel duisende gedurende die Palestina/Israelse konflik, en meer onlangs dan nou die 129 mense in Parys 2015).

Feit bly staan: hierdie mense moor/vermink/beskadig vir hul geloof. In die naam van hul Profeet Muhammad en Allerheilige G-d/Allah. Djihadiste word verafgod en na hul dood gekannoniseer. Plaas-aanvalle (in my beskeie opinie) is deel van die misdaad-statistiek van SA. Mense op voetsoolvlak verarm en verhonger by die dag en as hulle nie werk kry nie, wend hul hulself tot misdaad om te oorleef. Ons almal weet: die huidige regering faal almal; dié wat vir hulle gestem het en nog meer dié wat nie vir hulle gestem het nie. Hulle faal hul eie ‘struggle’-verhaal en hul ikoniese leier, Madiba. Daar, alles in ‘n neutedop gestel – in my beskeie opinie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.