Russiese vliegtuig breek glo al in lug in stukke

Die ongelukstoneel. Foto: Suliman el-Oteify, kantoor van die Egiptiese premier via AP

Die ongelukstoneel. Foto: Suliman el-Oteify, kantoor van die Egiptiese premier via AP

Die Russiese vliegtuig wat Saterdag in Egipte neergestort het, het reeds in die lug in stukke begin breek.

Ahram, ʼn staatsbeheerde koerant in Egipte, berig dat ʼn Russiese lugvaartbeampte in ʼn onderhoud met ʼn plaaslike nuusagentskap dié bewering gemaak het. Die beampte het gesê daar het oor ʼn groot terrein wrakstukke gelê nadat die vliegtuig neergestort het. Russiese owerhede het intussen gesê dit is nog te vroeg om die oorsaak van die tragiese voorval te bepaal.

ʼn Paneel met kenners van Rusland, Egipte, Frankryk en Ierland is aangestel om die voorval te ondersoek. Die ondersoek het vroeg Sondag begin met die deeglike ontleding van die vliegtuig se twee vlugopnemers wat laat Saterdag gevind is.

'n Wrakstuk. Foto: Suliman el-Oteify, kantoor van die Egiptiese premier via AP

‘n Wrakstuk. Foto: Suliman el-Oteify, kantoor van die Egiptiese premier via AP

Die tersaaklike owerhede in Egipte het intussen begin om die lyke na die Russiese ambassade in Kaïro te bring. Daar is reeds meer as 187 lyke op die ongelukstoneel gevind. Voorlopige ondersoek het getoon dat daar geen ooggetuies van die ongeluk was nie.

Die Egiptiese kabinet het Sondag gesê die soektog is uitgebrei nadat lyke oor ʼn area van agt vierkante kilometer gevind is. Die vliegtuig het Saterdag met 224 mense aan boord in ʼn bergagtige gebied in die Sinai-skiereiland, ʼn ylbevolkte woestynstreek tussen die Rooisee en die Middellandse See, neergestort. Daar is kort nadat die vliegtuig in Sharm el-Sheikh opgestyg het, kontak met die bemanning verloor.

ʼn Militante groep wat bande het met die Islamitiese Staat (IS) in Egipte het verantwoordelikheid vir die voorval aanvaar, maar dié bewering kon egter nie bevestig word nie. Sherif Ismail, Egipte se premier, het gesê dit is onmoontlik om die oorsaak van die ongeluk te bepaal tot die data op die vlugopnemers ontleed is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louis Boshoff ·

Misiele (as dit een was) wat vliegtuie op vlughoogte uithaal is nie die gewone skouer gelanseerde tipe nie. Die tipe radar geleide misiel stelsel soos gebruik in die Ukraiene nie lank gelede is van Russiese of Amerikaanse oorsprong. Ek hoop dat dit nie een van Amerika s’n was nie !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.