‘Rust’-wapenbewaarder wel skuldig aan manslag

Hannah Gutierrez-Reed, die voormalige vuurwapenbewaarder van die fliek “Rust”, luister na slotbetoë in haar verhoor op 6 Maart 2024. Sy is skuldig bevind aan onwillekeurige manslag. (Foto: Luis Sánchez Saturno/POOL/AFP)

Hannah Gutierrez-Reed, die wapenbewaarder op die stel van die Alec Baldwin-fliek Rust, is Woensdag aan onwillekeurige manslag skuldig bevind.

’n Jurie in Nieu-Mexico in die VSA het net meer as twee uur geneem om 26-jarige Gutierrez-Reed skuldig te bevind. In die saak wat oor 10 dae gestrek het, het die jurie gehoor hoe Gutierrez-Reed uiteindelik verantwoordelik was vir die gebruik van skerp ammunisie op die stel – ’n taboe in dié bedryf.

Die hof het ook gehoor hoe sy herhaaldelik versuim het om aan basiese veiligheidsreëls te voldoen, vuurwapens sonder toesig gelaat het en akteurs – onder wie Baldwin – toegelaat het om vuurwapens rond te swaai.

“Dit is nie ’n geval waar Gutierrez-Reed net een fout gemaak het en dit was om per ongeluk ’n skerp patroon in daardie geweer te plaas nie. Hierdie saak handel oor konstante, nimmereindigende veiligheidsmislukkings wat die lewe van een mens gekos het en byna nog iemand gedood het,” het aanklaer Kari Morrissey in haar slotbetoog gesê.

Baldwin (65) is in Januarie aangekla vir sy aandeel in ’n noodlottige skietery op die stel van die Western-fliek, waartydens die kinematograaf, Halyna Hutchins, doodgeskiet en die regisseur van die fliek, Joel Souza, ernstig beseer is met ’n Colt .45-vuurwapen.

Die akteur het herhaaldelik verantwoordelikheid vir die voorval ontken en volgehou hy het nie die sneller getrek nie.

Ballistiese kenners het egter bevind die wapen kon op geen ander manier afgevuur word nie.

Baldwin se eie manslagverhoor sal na verwagting in Julie plaasvind.

Alec Baldwin (Foto: Mark Sagliocco / Getty Images / North America)

Die tragedie het skokgolwe deur Hollywood gestuur en gelei tot oproepe vir ’n algehele verbod op die gebruik van vuurwapens op rolprentstelle.

Bedryfskenners hou egter voet by stuk dat die nodige veiligheidsmaatreëls reeds ingestel is om sulke voorvalle te voorkom, en dat diegene wat aan Rust werk, dit nie gevolg het nie.

Morrissey het verder gesê die dag toe Hutchins geskiet is, was die vuurwapenbewaarder kenmerkend lukraak met haar toesig oor die meer as 20 vuurwapens wat in die produksie gebruik is. Sy was ook nie teenwoordig terwyl Baldwin en die filmspan vir die betrokke toneel voorberei het nie.

“Sy het die wapen in die houtkerk op die stel gelos, teenstrydig met al die bedryfstandaarde vir wapenrusting op fliekstelle,” het Morrissey gesê.

Hutchins (42) het naby die kamera gestaan wat gebruik sou word om die toneel te verfilm.

Die koeël het deur haar bors gegaan en Souza, die regisseur, ook getref.

Hutchins is per helikopter na ’n hospitaal gehaas, maar is op dieselfde dag nog dood verklaar.

Ondersoekers het altesaam ses skerp patrone op die stel gevind.

Volgens Morrissey het Gutierrez-Reed nie standaardkontrole uitgevoer om te verseker dat die fop-patrone wat sy gedink het sy in vuurwapens gelaai het, onaktief was nie, waaronder om hulle te skud om hul kenmerkende gerammel te hoor.

Gutierrez-Reed het geen emosie getoon toe die uitspraak voorgelees is nie.

Die regter het haar in aanhouding geplaas voor haar vonnisoplegging, wat nie voor volgende maand verwag word nie.

Sy kan tot 18 maande tronkstraf opgelê word.

Die jurie het Gutierrez-Reed onskuldig bevind aan ’n afsonderlike aanklag van bewering dat sy met bewyse gepeuter het. Die aanklag hou verband met die beweerde versteking van kokaïen in die onmiddellike nadraai van die skietery.

Dave Halls, die fliek se veiligheidskoördineerder en assistentregisseur wat die vuurwapen aan Baldwin oorhandig het toe die voorval plaasgevind het, het ingestem tot ’n pleitooreenkoms met die staat en is tot ses maande probasie gevonnis.

Hutchins se ouers het die uitspraak teen Gutierrez-Reed verwelkom.

Halyna se wewenaar, Matthew Hutchins, het reeds ’n skikkingsooreenkoms met die vervaardigers van die fliek bereik en het verder as uitvoerende vervaardiger vir die rolprent opgetree.

Die verfilming van Rust is tydens die noodlottige voorval gestaak, maar is verlede jaar op stel in Montana voltooi. Geen uitreikingsdatum is al vir die fliek vasgestel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Aai ·

Ek se altyd vuurwapens maak nie mense dood mense maak mense dood so Alec hoe het die wapen dan gevuur?

Thys ·

As jy n vuurwapen op iemand rig en doelbewus die sneller trek, is dit moord

Cherokee ·

re ‘…..onaktief was nie, waaronder om hulle te skud om hul kenmerkende gerammel te hoor.’

Dit is ook nie ‘n praktiese metode om die patrone te toets nie. Die sneller moet getrek word met die loop na die grond gerig.

Protea ·

Daar moes in die eerste plek geen lewendige ammunisie gewees het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.