Ryanair steek ses in pad oor geposeerde foto

Eers moes ses personeellede van Ryanair kwansuis in Spanje op die vloer slaap en nou is hulle ontslaan weens dié foto, wat die laekostelugredery sê geposeer is. Foto: Twitter

Die laekostelugredery Ryanair het ses van sy werknemers ontslaan nadat hulle ʼn foto geneem het waarin hulle kwansuis op die vloer van ʼn lughawe in Spanje slaap waar kajuitpersoneel weens ongure weer moes oornag.

Die foto het op 14 Oktober aan die lig gekom nadat vlugte vanaf Porto in Portugal ontwrig is as gevolg van storm en talle vlugte na Malaga herlei moes word. Die foto is wild en wakker op sosiale media versprei, berig CNN.

Veiligheidsbeeldmateriaal wat die redery daarna uitgereik het, wys hoe die personeellede regmaak om vir die foto op die vloer te gaan lê. Nadat dit geneem is, staan hulle op en stap weg.

Ondanks die probleme weens die stormweer het niemand op die vloer geslaap nie, het Ryanair oor die foto gesê, berig die BBC.

“Die bemanning het ʼn kort rukkie in die bemanningskamer deurgebring en is toe na ʼn BBP-sitkamer geskuif, en het die volgende dag na Porto teruggekeer,” het die lugredery gesê ná ʼn ophef oor die foto op sosiale media.

Die afgelope week het Ryanair die ses se afdanking bevestig en gesê die foto en die mediaberigte daaroor het die maatskappy se aansien skade berokken en gelei tot “ʼn onherstelbare vertrouensbreuk met die ses werknemers”.

ʼn Portugese vakbond, SNPVAC, het vroeër van Ryanair se weergawe van die gebeure verskil en beweer die bemanningslede is wel van 01:30 tot 06:00 die oggend sonder “die minimum rusgeriewe” gelaat.

Die vakbond het beweer die werknemers het nie toegang tot kos, iets te drinke en selfs plek om te sit gehad nie omdat daar net agt sitplekke vir die bemanning beskikbaar was.

SNPVAC het nietemin toegegee dat die personeellede om 06:00 na ʼn BBP-sitkamer geskuif is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

In die dae VOOR selfone het jy nie hierdie tipe gedrag gesien nie, ook nie kinders wat onderwysers met water gooi nie, ook nie mense wat dom goed doen wat hulle hulle lewe kos nie, ook nie mense wat mekaar en hulle self om die lewe bring nie, ook nie ministers wat vir hulle vrouens video’s stuur nie, ook nie ‘n Ma se foto’s op die hokkie-groepie nie…..Die gevolge van selfone op die samelewing se gedrag is absoluut verbysterend teleurstellend…..

Baardbek ·

Aan “Sopbeen”: Het tot nou nog gemeen ek is die enigste “verkrampte” wat nog bestaan, maar het nuwe moed na u plasing!! Selfone is ‘n VERPESTING!!

Baardbek ·

Jammer, mag ek kwailifiseer: Sel-FONE” is baie brukbare en nuttigr tegnologie, AS dit reg gebruik word. Al die “by-funksies” is egter ‘n euwel en VERPESTING!

Baardbek ·

Ag tog! Vergewe asseblief die snik, en bedoel TIK foute! Moet lees “bruikbare” en “nuttige”. Verskoning aangebied.

humor ·

As hulle dit wel met kwade bedoelings gedoen het, steek hulle in die pad. Daar is genoeg waar hulle vandaan kom.

marieta ·

ok so van 1h30 tot 6h00 was hulle in ongemak….was hulle geskuif toe hulle dit ‘gestage’ het?….. hoekom moes hulle dit eers ‘stage’ voor hulle gemakliker verblyf gekry het…. hoekom is hulle dan verkeerd?…. nee wat lugdiens…erken julle te kort en sorg dat dit nie weer gebeur nie…dit kon voorkom gewees het….nou lyk julle soos muishonde….

Tersia ·

Ja ek weet nou nie of hulle ‘n grap probeer maak het of wat nie maar daar sit hulle nou. In die pad gesteek. Mens moet maar dink voor jy doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.