Rykes se versteekte miljoene blootgelê in ‘Pandora Papers’

Foto ter illustrasie van die Pandora Papers. Van links bo: die Oekraïense president, Volodymyr Zelenskiy, die Russiese president, Wladimir Poetin, die Keniaanse president, Uhuru Kenyatta, en koning Abdullah II van Jordanië. (Foto’s: AFP)

Tientalle staat- en regeringshoofde het al van ’n buitelandse belastingparadys gebruik gemaak om hul bates ter waarde van honderde miljoene dollar te versteek. Dit sluit in die leiers of voormalige leiers van Jordanië, Azerbeidjan, Kenia en die Tsjeggiese Republiek.

Dié onthulling kom te midde van ’n voortslepende ondersoek deur die International Consortium of Investigative Journalists (ICIJ) nadat ongeveer 11,9 miljoen dokumente van 14 finansiëledienstemaatskappye van regoor die wêreld uitgelek het.

Ongeveer 600 verslaggewers van internasionale nuusorganisasies soos The Washington Post, die BBC en The Guardian is tans betrokke by die grootskaalse ondersoek wat nou bekend staan as die Pandora Papers.

Ongeveer 35 huidige en voormalige leiers duik op in die jongste dokumente wat deur die ICIJ ontleed is.

Dít nadat die ICIJ reeds skakels tussen byna 1 000 maatskappye in buitelandse belastingparadyse en 336 hoëvlak-politici en staatsamptenare gevind het. Dit sluit in talle dienende staats- en regeringshoofde, leiers, ministers en ambassadeurs.

Meer as twee derdes van die maatskappye is op die Britse Maagde-eilande op die been gebring.

Die ICIJ benadruk dat dit in die meeste lande nié onwettig is om bates in die buiteland te hê of om skynmaatskappye te gebruik om sake oor landsgrense heen te doen nie. Die onthullings kan wel ʼn verleentheidheid wees vir leiers wat al in die openbaar standpunt teen belastingontwyking en korrupsie ingeneem het.

“Ek dink dit bewys meestal dat diegene wat die geheimhouding rondom buitelandse beleggings kan beëindig en ʼn einde daaraan kan maak, self daarby baat,” sê Gerard Ryle, direkteur van ICIJ, in ʼn video wat die ondersoek vergesel.

“Ons praat hier van triljoene dollars.”

Húlle word by die naam genoem

Die voormalige Britse premier Tony Blair (Foto: Tolga Akmen / AFP)

Dit blyk uit die gelekte dokumente dat die voormalige Britse premier Tony Blair, wat vantevore al belastingontduiking veroordeel het, self nie seëlbelasting op ʼn eiendom van miljoene pond in Londen betaal het nie nadat hy en sy vrou die buitelandse onderneming wat dit besit, gekoop het.

Die Keniaanse president, Uhuru Kenyatta, wat hom bewyer vir finansiële deursigtigheid, besit weer glo saam met verskeie familielede in die geheim ʼn netwerk van buitelandse ondernemings.

Dít terwyl koning Abdullah II van Jordanië op sy beurt glo ʼn netwerk van buitelandse ondernemings en belastingparadyse geskep het om ʼn eiendomsryk van $100 miljoen wat strek van Malibu, en Washington in die VSA tot Londen in Engeland op te bou.

Die Jordaniese ambassade in Washington wou nie kommentaar op die bewerings lewer nie hoewel die koning se regspan aan die BBC gesê het dat al die eiendomme met persoonlike rykdom gekoop is en dat dit ʼn algemene praktyk is vir hoëprofielmense om weens privaatheid- en veiligheidsredes eiendomme te koop.

Die Tsjeggiese premier, Andrej Babis wat later vandeesweek voor ʼn verkiesing te staan ​​kom, se naam verskyn ook in die jongste dokumente. Babis het op sy beurt versuim om ʼn buitelandse beleggingsmaatskappy te verklaar waarmee hy ʼn chateau in die suide van Frankryk gekoop het.

“Ek het nog nooit iets onwettigs of verkeerd gedoen nie,” het Babis intussen in ʼn twiet teruggekap.

Wladimir Poetin word nie by die naam in die dokumente genoem nie hoewel hy via medewerkers verbind word aan geheime bates in Monaco, veral ʼn huis wat verkry is deur ʼn Russiese vrou wat vermoedelik ʼn kind by die Russiese leier gehad het, berig The Washington Post.

Talle ander bekendes word ook in die dokumente genoem. Dit sluit in die Colombiaanse sangeres Shakira, die Duitse supermodel Claudia Schiffer en die Indiese krieketlegende Sachin Tendulkar.

Verteenwoordigers vir al drie het aan die ICIJ gesê hul beleggings was wettig en ontken dat hulle belasting ontduik.

  • Die Pandora Papers is die jongste in ʼn reeks dokumente, wat anonomiem uitgelek is, en wat deur die ICIJ ondersoek word. Vorige lekkasie van inligting sluit in die LuxLeaks van 2014 en die Panama Papers van 2016.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hardekwas ·

Die internasionale hof moet op al die verskuilde geld beslag lê en tussen die mense van die betrokke lande verdeel. Ek wonder hoeveel het die kaders weggesteek?

Pietertjie ·

Dink net hoe sal Suid Afrika vaar in hierdie ondersoek: Zondo Kommissie nommer twee, en ek dink nie daar sal genoeg tyd en papier in die wêreld wees om die ondersoek af te handel nie. Vervolgings is natuurlik buite die kwessie, behalwe miskien vir ‘n paar fluitjieblasers.

Andrew ·

Washington post, guardian en bbc. almal idiologiese media huise wat hulself polities positioneer. Ek sien nie waar enige reels gebreek was nie (onthou elke land het ander taks wette) en sou daar n breek van reels wees moet dit dan nie deur n lande se taxman ondersoek word in stede van eenogige nuus huise nie? Wie het besluit dat die media huise is die internationale hof ? Lyk meer soos n swartsmeer veldtog om druk op putin te plaas oor sy gas lyn en nuwe vebinding to europa. Hoeveel bates het die zulu/swaziland koning in ander lande?

cccp ·

Baie dankie Andrew – jy het die woorde uit my mond geneem en my ‘n lywige “post” gespaar.

Harley Davidson ·

Ek persoonlik betaal belasting wat die Bybel se gee die keiser wat hom toekom maar in SA diskrimineer die keiser teen my en ontvang ek nie waarvoor ek betaal nie,bv die polisie is van geen waarde en daarom moet ek ten duurte van sekuriteits maatskappye gebruik maak nou vra ek wat is doel dan om belasting te betaal?

RB ·

Terloops, Jasper, die Bybel praat nêrens van meer as 10% nie.
Die volk wou n koning hê toe sê God dan sal julle aan hom ook 10% gee, soos wat aan God behoort.
Steeds behoort 10% van ons inkomste aan God maar hedendaagse ‘keisers’ vat veel meer as wat hul toekom.

Anel ·

Ek wonder hoe spring die kaders hier by ons nou rond. Of dalk dink hulle hulle is veilig. Wette is mos nie op hulle van toepassing nie!

Blikkies ·

Ek geen nie om oor die wereld se mense nie. Ek wil net weet wie van SA is op die lys, hulle name, besighede en hoeveel geld hulle wegsteek? Dit is tog wat ons almal wil weet…….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.