SA jagter in VSA vervolg oor olifantjag

Argieffoto

Die eienaar van ʼn Suid-Afrikaanse jagmaatskappy word nou deur Amerikaanse owerhede vervolg nadat hy na bewering Zimbabwiese beamptes omgekoop het om ʼn jagkliënt van Colorado in die VSA te help om onwettig ʼn olifant in Zimbabwe te jag.

Hanno van Rensburg (44) word ook deur dieselfde owerhede daarvan aangekla dat hy glo die tande van die olifant, wat volgens dié owerhede onwettig in ʼn nasionale park gejag is, na die VSA te laat uitvoer.

Volgens die klagstaat is Van Rensburg in 2015 soveel as $39 000 betaal (nou ongeveer R490 000) om ʼn jagter van Colorado te vergesel om ʼn olifant buite Zimbabwe se Gonarezhou Nasionale Park te skiet. Volgens die klagstaat het die jagter egter die olifant gekwes en het hulle die olifant se spoor tot in die park gevolg, maar kon die dier nie weer opspoor nie.

Amerikaanse owerhede voer aan daar het Van Rensburg en die jagter omkoopgeld van minstens $5 000 aan die veldwagters betaal sodat hulle nog ʼn olifant – nie die olifant wat hulle reeds gekwes het nie – in die park kan skiet. Ingevolge Zimbabwiese wette is dit ʼn oortreding om olifante in die nasionale park te skiet.

Iemand in die jaggroep waarvan Van Rensburg en die Amerikaanse kliënt deel was het toe glo ʼn ander olifant in die park doodgeskiet. Van Rensburg het daarna glo met die kliënt van Colorado saamgesweer om die tande van dié olifant na die VSA te laat uitvoer. Volgens die klagstaat het Van Rensburg glo voorgegee dat die olifant buite die park geskiet is en dat die jagter ʼn inwoner is van Suid-Afrika en nie van die VSA nie.

Volgens Amerikaanse owerhede is Van Rensburg nie in hegtenis geneem nie, maar daar is wel ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik. Die aanklagte teen hom sluit in bedrog, sameswering en oortreding van die Amerikaanse Wet op Bedreigde Spesies.

Van Rensburg het nie Maandag gereageer op ʼn versoek vir kommentaar wat na die e-pos-adres gestuur is wat op sy maatskappy se webtuiste aangedui word nie.

Owerhede het nie die naam van Van Rensburg se kliënt bekendgemaak nie, maar in April het Paul Ross Jackson van Evergreen in Colorado ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan nadat hy daarvan aangekla is dat hy die Wet op Bedreigde Spesies oortree het deur ʼn olifant in Zimbabwe te skiet. Die maande, plekke en voorletters van die jagmaatskappy in Jackson se pleitooreenkoms stem ooreen met dié in die klagstaat teen Van Rensburg.

Jackson is ʼn boete van $25 000 (sowat R315 000) opgelê en het ingestem om die Amerikaanse departement van wildlewe en visserye van al die dokumente te voorsien in verband met enige jagtogte buite die VSA. Hy is ook opdrag gegee om die olifanttande terug te besorg aan die Zimbabwiese regering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

**anoniem** ·

Sulke mense maak my so kwaad! Het hulle daai olifant se vleis geeet? Ek hoop waaragtig so, want andersins jag jy om die verkeerde redes. Olifante is sulke mooi diere! Maak mens so vies! Ek gee glad nie om as mense jag nie, maar doen dit vir die regte redes (kos om te eet) nie bloot vir ‘n trofee nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.