SA ma gevonnis oor kindermoorde

facebook-picture-of-gary-clarence

Gary Clarence en sy tweelingseuns Foto: Facebook

ʼn Suid-Afrikaanse ma was baie lief vir haar drie gestremde kinders en het haarself finansieel en emosioneel uitgeput om hul welstand te verseker voordat sy hulle uiteindelik vermoor het, het ʼn senior regter Dinsdag in ʼn hof in Engeland gesê.

Regter Sweeney het die 43-jarige Tania Clarence met ʼn hospitaalbevel gevonnis nadat hy bevind het dat haar verantwoordelikheidsin en aanspreeklikheid verminderd was weens ʼn uitgerekte stryd met erge depressie, het die Press Association in Engeland berig.

Sweeney het ook aan Clarence gesê sy kan nie ontslaan word voordat sy ten volle van haar siekte genees is nie. Sy het skuldig gepleit op aanklag van strafbare manslag weens verminderde aanspreeklikheid van Olivia (4) en die driejarige tweeling Ben en Max by die gesin se huis in New Malden, suid-wes van Londen.

Al drie kinders het aan spinale spierdistrofie gely. Die siekte, wat ook as “floppy baby”-sindroom bekend staan, veroorsaak dat kinders nie beheer het oor hul bewegings nie en hul lewensverwagting word drasties beperk.

Die kinders is in April vanjaar dood aangetref in hul beddens met speelgoed wat om hulle koppe gepak is.

Die Old Bailey in Londen het bevind dat Clarence se familie ʼn geskiedenis van geestesiektes het. Haar ouma het selfmoord gepleeg en haar ma het probeer om selfmoord te pleeg toe haar huwelik verbrokkel het.

Clarence se kinderjare was eensaam en ongelukkig en sy het geleer om nie haar gevoelens met ander te deel nie. Sy het ʼn swak selfbeeld en sukkel om nabye verhoudings te kweek en het emosionele letsels.

Sy was in ʼn langtermynverhouding met ʼn kêrel wat haar mishandel het toe sy by ʼn Suid-Afrikaanse universiteit studeer het. Sy het toe ʼn depressie-episode gehad wat twee jaar lank geduur het.

Sy het in 1994 met Gary getrou en ʼn tweede depressie-episode in 1998 beleef wat ʼn paar maande lank geduur het.

Clarence het gesukkel om na haar vier kinders om te sien, waarvan drie in rolstoele was.

Sweeney het in sy vonnisuitspraak te kenne gegee dat Clarence onder ʼn geweldige druk verkeer het in die jare wat sy aan haar kinders se behoeftes wou voldoen. Sy en haar man het al die geld spandeer wat hulle gehad het, en al die geld wat hulle kon leen om ʼn huis te koop en dit vir die kinders aan te pas sodat hulle in hul rolstoele kon rondbeweeg.

Sy het op die dag van die moorde ʼn aantal briefies agtergelaat, insluitend een aan die kinderoppasser en een aan haar man.

Sweeney het gesê enige beplanning wat Clarence gedoen het voor die dag van die moorde was as ʼn gevolg van haar geestelike siekte en haar siening oor haar kinders se mediese behandeling dra nie by tot haar aanspreeklikheid nie. Hy het die bewering, dat haar versuim om behandeling te soek vir haar depressie, bygedra het tot haar aanspreeklikheid, verwerp.

Lees alle vorige berigte oor Tania Clarence op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

snip ·

skuus ek verstaan nou nie mooi. Is ha vonnis hospitalisasie en behandeling? kan depressie genees wo?

Elize ·

Die radio en tv nuus het gese haar man het haar deurentyd bygestaan. Depressie sal seker altyd deel van haar lewe wees maar beter omstadighede sal dit verminder. Of sy ooit sonder verwyte gaan wees is ‘n ander vraag.

Patat ·

Dankie Elize. Dit is aangename nuus. Ek het nie geweet nie. Groete.

marietjie ·

kry haar in my siel in jammer. ek hoop nie hier is weer lelike kommentaar nie

pop ·

Dankie tog vir ligte vonnis. Enigste een wat verwyt moet word is haar man wat loop vakansie hou en haar by 3 siek kinders los. En Snip, depressie kan beheer word, maar met medikasie en rustige stabiele omgewing funksioeneer hulle goed, nes duisende ander.

Eish! ·

Volgens my dra die pa dalk meer verantwoordelikheid vir wat gebeur het. Ek het nog altyd gedink kinders het ‘n ma en pa om hul te versorg? Hier was alle verantwoordelikheid weer op die vrou geksuif? Let wel. n vrou met ‘n kroniese siekte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.