SA-man wat glo in VSA moor bid saam ondervraers

Muziwokuthula Madondo

Muziwokuthula Madondo

ʼn Suid-Afrikaanse man wat daarvan beskuldig word dat hy vier mense in Amerika vermoor het, het saam met sy ondervraers gebid voor hy glo aan hulle gesê het hy is as kind seksueel mishandel en glo erken het dat hy die moorde gepleeg het.

Muziwokuthula Madondo beweer ook dat een van sy slagoffers, Zenzele Mdadane, deel was van ʼn groep wat hom glo seksueel aangerand het. Madondo word ook daarvan beskuldig dat hy Bobby Gonzales (57) en sy seun, Gabriel Baca (37), in Maart 2011 ʼn hotel in Tucumcari, Nieu-Mexiko doodgeskiet het. Madondo het glo hierna na Texas gevlug.

Madondo is op 27 Maart 2011 naby Houston, Texas in hegtenis geneem. Hy het glo op kamera erken dat hy die moorde gepleeg het. Daar woed egter tans ʼn hofstryd oor of ʼn jurie die beeldmateriaal moet sien wanneer hy in 2015 vir die Tucumcari-moorde verhoor word.

Die polisie het Madondo vir drie agtereenvolgende dae na sy inhegtenisneming ondervra. Tydens die sessies het Madondo glo erken hy het die moorde gepleeg. Hy het egter glo ook gesê dat ander mense die moorde gepleeg het en die skuld op hom probeer pak. Daar is aan Madondo gevra of Gonzales en Baca hom seksueel aangerand het. Madondo het begin huil en gesê: “’n Christen pleeg nie moord nie, maar in my posisie…Jesus sou in my posisie moord gepleeg het.”

Madondo het glo ook skuld erken op moorde wat in Ohio gepleeg is. Hy het glo erken dat hy Jacquelyn Hilder (60) op 17 Februarie 2011 in haar huis in Akron, Ohio, doodgeskiet het. Sy was ʼn uitvoerende direkteur van FirstMerit Bank.

Hy het nog nie in die hof in Ohio verskyn op aanklag van die moorde op Hilder en Mdadane nie en het ook nog nie gepleit nie.

Madondo het in 2008 na Amerika geëmigreer om teologie te studeer. Hy is oorspronklik van Richmond naby Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal.

Nieu-Mexiko het nie die doodstraf nie, maar indien hy skuldig bevind word aan die moorde in Ohio, kan hy tereggestel word. Hy het glo tydens sy inhegtenisneming aangevoer hy wil tereggestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SNEL ·

Hoop hy kry die doodstraf, hy verdien dit. Sulke gemors moet uit die samelewing verwyder word. In Amerika is hy darem gevang en is daar n kans dat hy die doodstraf kan kry, maar as hy in Suid Afrika aangebly het, sou daar geen einde aan sy dade gewees het nie.

Elfie ·

Ja-nee die gesegde is mos ” ‘n dood het ‘n oorsaak” en dis nou mode om seksuele misbruik as kind die skuld te gee vir enige ding. Hoe maak seksuele msibruik as kind dat jy iemand later as grootmens vermoor? Twak man!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.