SA man wat vrou probeer vermoor in Britse hof gevonnis   

Victoria en Emile Cilliers.

Emile Cilliers (38), die Suid-Afrikaner wat ʼn sersant in die Britse weermag was, is in Brittanje tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy sy vrou probeer vermoor het.

Cilliers is verlede maand skuldig bevind op twee aanklagte van poging tot moord. Die regter het gesê Cilliers is deur seks en geld gemotiveer en dat hy “uitsonderlike gevoelloosheid” getoon het deur sy 42-jarige vrou, Victoria, twee keer te probeer vermoor.

Victoria het wonderbaarlik oorleef nadat sy op 5 April 2015 in Wiltshire, Engeland, tydens ʼn valskermsprong 1,2 km ver geval het nadat haar valskerm nie wou oopgaan nie. Sy het onder meer haar been gebreek en rugbeserings opgedoen en was drie weke lank in die hospitaal.

Die regter het gesê hoewel Victoria se fisieke beserings genees het, sukkel sy steeds met die sielkundige skade wat Cilliers haar aangerig het.

Cilliers se verhoor het in die hof in Winchester plaasgevind en die jurie het bevind Cilliers het sy vrou by twee geleenthede probeer vermoor. Hy het eers doelbewus ʼn gaslekkasie veroorsaak in die huis waar hulle gewoon het.

Toe dit nie gewerk het nie, het Cilliers sowat ʼn maand later die onderdele van Victoria se valskermtoerusting verwyder wat tot gevolg gehad het dat haar noodvalskerm nie gewerk het nie.

Victoria het tydens onderhoude ná afloop van die vonnis gesê sy kan steeds nie haar man as ʼn moordenaar sien nie. Volgens haar het sy vir hulle twee jong kinders gesê hulle pa is weg vir werk. Sy beplan om hom in die tronk te besoek en te konfronteer oor wat gebeur het.

Die regter het gesê Cilliers sal minstens 18 jaar agter tralies moet deurbring.

Volgens die staat het Cilliers skuld van £22 000 (ongeveer R366 000) gehad en geglo ʼn lewensversekeringspolis van £120 000 sou in sy guns uitbetaal word as Victoria sou sterf.

Tydens die verhoor van ses weke is daar gehoor dat Cilliers buite-egtelike verhoudings gehad het met Stefanie Goller, wat hy op Tinder ontmoet het, asook met sy eksvrou, Carly Cilliers. Hy was ook met verskeie prostitute in verbinding.

Cilliers en Victoria is in September 2011 in Kaapstad getroud. Cilliers het in Ermelo grootgeword. Sy ma was ʼn onderwyseres en sy pa ʼn ingenieur. Hy het volgens berigte ook twee kinders by ʼn Suid-Afrikaanse vrou sowel as twee kinders saam met sy eksvrou, Carly.

Cilliers het glo ʼn seksverslawing en het by verskeie geleenthede naakfoto’s van homself op webwerwe geplaas en ontmoetings probeer reël met enkelvroue en pare.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Karl ·

Jammer jy sit hier in 1ste wereld land, hul moes jou SA toe gestuur het.

Cor ·

So toe vang slim sy baas. Hy het probeer om die kriminele van SA se streke uit te haal maar toe was die op en wakker Britse polisie een te veel vir hom. Geen simpatie nie wat jy saa sal jy maai

Tammy ·

Na 18 jaar is hy heelwat ouer. Victoria is n pragtige opregte mens en het beslis verdien om ontslae te raak van so n skurk. Hoop hy reabiliteer in die tronk. Ek voel baie jammer vir sy ouers wat so sleg in die steek gelaat is deur hulle seun en sy kinders wat n baie slegte nalatenskap van hulle pa gaan erf. Ongelukkig is dit so dat die kinders later in hulle lewe uitvind hoe goed of sleg hulle ouers was en dan het dit altyd n negatiewe uitwerking oor wat hulle van daardie betrokke ouer dink.

Gemaskerde Sopbeen ·

Die Sopbeen kan onthou dat daar ‘n staatljie vertel word van iemand wat vir Winston Churchill gesê het, “As ek met jou getroud was het ek gif in jou koffie gegooi!” waarop hy geantwoord het, “As ek met jou getroud was sou ek dit gedrink het!!” Ander mense se boeke bly maar duister, né?

Sjoe ·

Sjoe skok jy my uit my skoene op so koue dag. Ek hoop nie jy bedoel die vrou was so erg, dat hy sou gif drink om van haar ontslae te raak, dit is hoe dit klink – indien wel wil ek net vra wat dan van die ander 2 vroue in sy lewe wat beide 2 kinders van hom het. As hy net aan sy verslawing gewerk het, sou al die pyn gespaar gewees het, die mens agter die seks is lyk my ‘n goeie mens, sy vrou kan nie aan hom dink as ‘n moordenaar sê baie. Absoluut net geld vir sy verslawing gesoek. Ek voel vir sy ouers, ek glo dit is goeie goeie mense

Gemaskerde Sopbeen ·

Sjoe, skok jy my nou terug op so koue dag. Ek bedoel niks……ek haal ‘n staaltjie aan oor Winston Churchill….en ek sê “Ander mense se boeke bly duister om te lees”. Dis AL. Ek ken nie een van die twee nie……..en ek het ook nie na een van die twee by name verwys nie….anders as jy self, en sommige ander kommentariërs (mooi woord, né?) wat hom blindelings veroordeel en uitmaak as die vark in die verhaal? Dink tog vir ‘n oomblik: ‘n Man flankeer met jou…..en hy het alreeds 2 kinders elk by twee verskillende vrouens, van altwee geskei en vervreem, en hy’s 38. Dink jy daar’s ‘n risiko om met so ‘n persoon in ‘n verhouding te wees…en dan NOG 2 kinders in die wêreld te bring? Duisternis……

Sjoe ·

Net ‘n vreemde aanhaling by die spesifieke berig. ” Die duister boeke” maak egter sin. Nee jong ou Sopbeen, sulke manne weet net hoe om die charm aan te draai – ek sal darem hol as ‘n man klaar soveel kinders het en so kort in verhoudings bly. Sal my nie verbaas as die vorige vroue ook onthou van gaslekasies of ontploffinkies nie. Ek is dankbaar die vrou is gespaar vir hul kinders.

White Rhino ·

Jip wat jy saai sal jy maai.
Sit maar lekker agter tralies ou – jy verdien dit.
Net jammer dit was nie 20 jaar of langer nie.

Ander Annie ·

Hy is diep in finansiële skuld en sy het ‘n lewenspolis op haar naam. Dit is hoekom hy haar wou dood maak. GELD, geen ander rede. Dankie tog hy het dit nie reggekry om haar dood te maak nie. Mag sy tyd in die tronk toepaslik wees vir dit wat hy wou doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.