SA skitter by die Wêreldkampioenskap vir Uitvoerende Kunste

Die 21 Finaliste in die Galakonsert (Foto: Verskaf)

deur Riaan Grobler

Suid-Afrika spog met 21 finaliste in die finaal van die 2017 Wêreldkampioenskap vir Uitvoerende Kunste.

Dié aankondiging is Donderdag by die Long Beach Performing Arts Centre in Los Angeles gemaak.

Span Suid-Afrika het 69 deelnemers wat deelgeneem het in uitvoerende kunste-kategorieë soos sang, dans, modelwerk, drama en instrumentaal, met meer as 60 lande wat hierdie jaar deelneem. Die kampioenskap is oop vir alle ouderdomme met die jongste deelnemer wat 4 jaar oud is.

Die kompetisie het op 1 Julie afgeskop met opkomende kunstenaars wat hul talente teen uiters hoë standaarde ten toon moes stel. Filippyne het die grootste groep deelnemers en daar was hierdie jaar meer as 2 500 items. Woensdagoggend is die semi-finaliste aangekondig en 41 van die 69 deelnemers van Suid-Afrika het deurgedring, waarna elkeen weer in spesifieke kategorieë moes deelneem.

Johnny Lochner (Foto: Verskaf)

Beide Suid-Afrika se junior en senior kampioene van die Suid Afrikaanse Kampioenskap vir Uitvoerende Kunste het deurgedring na die finale ronde.

Die 10-jarige Ruan Nel van Midrand in Gauteng het die beoordelaars beïndruk met sy kitaarspel en sang terwyl die 18-jarige Braeden Buys van Brackenfell in Kaapstad se sang- en dramatalent van die hoogste punte behaal het.

Die 14-jarige Johnny Lochner van die Hoërskool Menlopark in Pretoria is die enigste Suid Afrikaner wat in twee kategorieë deurgedring het na die finaal. Hy moet met sy modelpassies asook toneelspel bewys hoekom hy met die wêreldkampioentrofee moet wegstap.

Daar is in totaal 72 deelnemers wat aan die galakonsert deelneem op Vrydagaand om 19:00. Tydens dié glansgeleentheid word die junior en senior wêreldkampioene aangekondig wat elk met prysgeld van $7 500 wegstap.

Die beoordelaars by die Wêreld Kampioenskap vir Uitvoerende Kunste is almal spesialiste in spesifieke uitvoerende kunste en sluit in agente, talentsoekers, vervaardigers, skrywers en modelbase. Hulle het ook deelnemers na afloop van die kompetisie genooi na die “Go-sees” vir privaat gesprekke om raad te gee en oor moontlike loopbaangeleenthede in Hollywood te gesels.

Die toekenningseremonie vind Saterdagoggend plaas waar deelnemers gaan uitvind wie met die goue, silwer en bronsmedaljes wegstap en wie die algehele wenners van elke kategorie gaan wees. Maar vir nou word die asems opgehou vir die finale van die kampioenskap en hou ons duim vas vir die 21 Suid Afrikaners tydens die galakonsert.

Modelle in kultuurdrag (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.