SA soek ‘dringende Geregshof-bevel’ vir Gaza

Familielede en ondersteuners van gyselaars wat deur Palestynse militante in Gaza gehou word ná die aanval op 7 Oktober, swaai plakkate rond tydens ʼn betoging om hul vrylating te eis. (Tel Aviv, 9 Mei 2024) (Foto: Jack Guez/AFP)

Suid-Afrika se regering het Vrydag hom weer na die Internasionale Geregshof (IG) gewend om ʼn dringende hofbevel te bekom vir die beskerming van Palestyne in Gaza teen “growwe en onherstelbare skending van hul regte onder die Verenigde Nasies se Konvensie oor Volksmoord”.

Dit is in reaksie op Israel se voortgesette militêre aanslag op Rafah.

Vincent Magwenya, woordvoerder van die president, sê die dringende aansoek volg ná Israel se verhoogde aanval teen Rafah en dit hou “erge risiko’s in vir humanitêre voorraad, basiese dienste aan Gaza, die oorlewing van die Palestynse mediese stelsel en die oorlewing van Palestyne in Gaza”.

“Suid-Afrika hou vol dat die aanval op Rafah die situasie vererger en onherstelbare skade aanrig aan die regte van Palestyne in Gaza. Die situasie het beduidend verander sedert die hofbevel op 28 Maart 2024.”

Die IG het Israel in daardie stadium beveel om seker te maak dat dringende humanitêre bystand mense in die Gaza-strook bereik. Die IG in Den Haag het in sy bevel gesê Palestyne in Gaza beleef nie meer net ʼn risiko van hongersnood nie, maar hongersnood is reeds teenwoordig.

“Rafah is die tuiste van 1,5 miljoen Palestyne. Dit is die laaste toevlug in Gaza vir diegene wat deur Israel se optrede ontheem is. Dit is die laaste lewensvatbare sentrum vir staatsadministrasie en die voorsiening van basiese dienste, insluitend mediese sorg,” sê Magwenya.

Sedert die aanvang van militêre optrede in Rafah het Israel beheer geneem van die Rafah- en Kerem Shalom-kruisings, en beheer effektief dus alle verkeer in en uit Gaza. “Alle noodsaaklike humanitêre en mediese voorraad, goedere en brandstof word afgesny. Israel het boonop ook mediese ontruimings voorkom en hanteer ontruimingsones as uitroeiingsones, soos bewys met die verwoesting van hospitale in Gaza en die ontdekking van massagrafte in ander groot gesondheidsorgfasiliteite in die Gaza-strook,” voeg hy by.

Suid-Afrika versoek dus dringende ingryping en ʼn ondersoek na alle optrede wat “onherstelbare vooroordeel vir die regte van Palestyne, insluitend die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) vir geteikende moorde”.

Suid-Afrika versoek die IG om Israel te beveel om onmiddellik te onttrek en sy militêre aanval in Rafah te staak en dat Israel dadelik alle maatreëls sal instel om onverhinderde toegang tot Gaza te verseker. Suid-Afrika versoek toegang vir die Verenigde Nasies en ander beamptes wat betrokke is by die verskaffing van humanitêre bystand, asook internasionaal goedgekeurde organisasies, beamptes, ondersoekers en verslaggewers sodat toestande op grondvlak in Gaza aangeteken kan word.

Suid-Afrika versoek ook dat die hof Israel sal beveel om ʼn verslag binne een week van die datum van die bevel in te dien oor alle maatreëls wat ingestel is vir dié voorlopige bepalings en dat alle vorige voorlopige maatreëls binne een maand ingestel sal word.

“Ons doen ʼn beroep op die internasionale gemeenskap, insluitend die bondgenote van Israel, om nie hulself blind te hou vir die voortgesette volksmoord in Gaza nie,” sê pres. Cyril Ramaphosa. “Die growwe menseregteskendings wat deur Israel gepleeg word, het onbegryplike vlakke bereik van wreedheid, haat en erge gewelddadige verdrukking. Die wêreld moet meer doen om die vervolging van Palestyne, insluitend talle onskuldige vroue en kinders, te beëindig.”

VSA-verslag veroordeel oorlogsgedrag

Aanvalle van Israel het Gaza Saterdag getref ná hernude kritiek uit die VSA oor die land se gedrag tydens die oorlog en ʼn waarskuwing deur die Verenigde Nasies (VN) oor ʼn “enorme ramp” indien die inval van die digbevolkte Rafah voortduur.

AFP-verslaggewers het berig oor die aanvalle in verskeie dele van die kusgebied waar die VN sê hulp word versper ná Israelse soldate internasionale opposisie teëgestaan het en die ooste van Rafah vandeesweek betree het.

ʼn Verslag deur die Amerikaanse staatsdepartement het Vrydag gesê Israel het waarskynlik norme oor internasionale wetgewing oortree deur sy gebruik van wapens van die VSA – sy hoof-weermagverskaffer. Daar is egter nie genoeg bewyse om versendings te staak nie.

Die departement het sy verslag vrygestel twee dae ná pres. Joe Biden gedreig het om sekere bomme en grofgeskut te weerhou indien Israel met die algehele aanval op Rafah voortgaan. Volgens die VN skuil 1,4 miljoen mense in Rafah.

Dit is die eerste keer dat Biden Amerikaanse invloed oor Israel aanroer – sy weermaghulp beloop jaarliks sowat $3 miljard.

Antonio Guterres, VN-sekretaris-generaal, het Vrydag gesê Gaza sal ʼn “enorme humanitêre ramp” beleef indien Israel met ʼn volskaalse grondoperasie in Rafah voortgaan.

Israelse soldate het Dinsdag die Palestynse kant van die Rafah-kruising tussen Egipte en Gaza gesluit ná inwoners van die ooste van Rafah beveel is om te ontruim. Alle brandstof word deur dié kruising vervoer.

Israel het gesê sy suidelike kruising met die Palestynse gebied, Kerem Shalom, is Woensdag weer oopgemaak.

ʼn VN-verslag laat Vrydag het egter gesê albei kruisings het steeds “swaar weermagteenwoordigheid”.

Martin Griffiths, die VN se hoof van bystand, het gesê sluiting van die kruisings beteken “geen hulp nie”.

Die oorlog het begin toe Hamas Israel op 7 Oktober 2023 ingeval het. Meer as 1 170 mense, hoofsaaklik burgerlikes, is dood, aldus ʼn AFP-telling gebaseer op Israel se amptelike syfers.

Israel se teenaanval het reeds minstens 34 943 mense se lewens in Gaza geëis, hoofsaaklik vroue en kinders, aldus die Hamas-beheerde gebied se ministerie van gesondheid.

‘Terug na die begin’

Onderhandelingspanne van Israel en Hamas het Kaïro Donderdag verlaat ná ʼn “twee dag lange ronde van indirekte onderhandelings” oor ʼn moontlike wapenstilstand in Gaza.

Hamas het gesê Israel se verwerping van ʼn wapenstilstand wat deur bemiddelaars ingedien is, het die onderhandelings “terug na die begin gestuur”.

Die VN se algemene vergadering in New York het Vrydag oorweldigend gestem om bykomende regte aan Palestyne toe te staan in die internasionale liggaam en hul versoek vir volledige lidmaatskap ondersteun. Dié versoek word deur die VSA teengestaan.

Riyad Mansour, Palestynse ambassadeur in die VN, het gesê dit is ʼn “geskiedkundige stemmery”. Israel se minister van buitelandse sake, Israel Katz, het gesê dit stuur ʼn boodskap aan Hamas dat “geweld vrugte afwerp”.

Richard Gowan, ʼn analis by die Brussel-gebaseerde denkskrum die International Crisis Group, het gesê die resolusie stuur “ʼn baie duidelike boodskap aan Israel en die VSA dat dit tyd is om die Palestynse staat in ʼn ernstige lig te beskou”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.