Saak van poging tot moord teen baba onttrek

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Hof in Pakistan het Saterdag die saak van poging tot moord teen ʼn nege maande oue baba laat vaar.

Die hof sal in ʼn afsonderlike saak ondersoek hoe die polisie klagtes teen baba Mohammad Musa gelê het. Musa se gesin was glo in ʼn onderonsie betrokke met beamptes van ‘n gasmaatskappy in ʼn werkersklasbuurt in Lahore.

Die polisie het ʼn saak teen die hele familie gemaak. Die familie en ander verdagtes is daarvan beskuldig dat hulle werknemers van die gasmaatskappy met klippe bestook het.

Daar is wêreldwyd oor die saak berig wat ʼn bespotting van die Pakistanse regstelsel gemaak het. Die baba het sy longe uitgeskree terwyl sy vingerafdrukke in die hof geneem is. Sy oupa het hom later met ʼn melkbottel probeer sus.

Inspekteur Kashif Muhammad, wat by die misdaadtoneel was en die saak van poging tot moord teen die baba aanhangig gemaak het, is intussen geskors.

Die klagtes is teenstrydig met Pakistan se minimumouderdom vir kriminele aanspreeklikheid, wat in 2013 van sewe jaar oud tot 12 jaar oud verhoog is, buiten in terrorismesake.

Die polisie het Saterdag aan regter Rafaqat Ali Qamar gesê die baba word “nie meer in die saak benodig nie”.

Musa se oupa, Muhammad Yasin, het gevolglik ʼn aansoek om borgtog vir die baba teruggetrek nadat die hof die saak laat vaar het. Yasin het die polisie daarvan beskuldig dat hulle klagtes gefabriseer het, omdat hulle met ʼn opposisieparty saamspan om te sorg dat die beskuldigdes van hul eiendom uitgesit word en ʼn hofbevel bekom het om hul gasverbinding te verwyder. -SAPA

Lees ook:
Baba in hof vir poging tot moord

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.