Sabalenka se kêrel se dood as selfmoord ondersoek

Konstantin Koltsov en Aryna Sabalenka (Foto: Aryna Sabalenka/Instagram)

Die Miami-Dade-polisie ondersoek die voormalige NHL-yshokkiespeler Konstantin Koltsov, kêrel van die tennisster Aryna Sabalenka, as ʼn “vermoedelike selfmoord”.

Argemis Colome, woordvoerder van die polisie, het Dinsdag in ʼn e-pos gesê dat die polisie Maandag om 12:39 na die St. Regis Bal Harbour-oord ontbied is, oor ʼn man “wat van ʼn balkon gespring het”.

“Die Miami-Dade-polisie het gereageer en het die ondersoek oorgeneem van die vermoedelike selfmoord van Konstantin Koltsov. Geen vuilspel word vermoed nie,” het hy bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig Koltsov was ten tyde van sy dood in Miami saam met Sabalenka, waar sy besig was om voor te berei vir haar deelname aan die Miami-Ope.

Koltsov is ʼn voormalige beroepsyshokkiespeler wat die Belarussiese span in 2002 en 2010 by die Olimpiese Spele verteenwoordig het. Hy was ook tussen 2002 en 2006 deel van die Pittsburg Penguins se Nasionale Yshokkieliga-span.

Hy was 42 jaar oud.

Die Daily Mail het vroeër foutiewelik berig Koltsov is dood weens ʼn bloedklont.

Sabalenka (25), die wêreld se naasbeste vrouetennisspeler, sou vandeesweek aan die toernooi in Miami deelneem. Die Belarussiese tennisspeler het in 2023 die Australiese Ope gewen en het vroeër vanjaar haar titel in Melbourne behou. Sy het nog nie in die openbaar kommentaar gelewer oor Koltsov se dood nie.

Konstantin Koltsov en Aryna Sabalenka (Foto: Aryna Sabalenka/Instagram)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.