Sakeman dagvaar Meta oor advertensieslenters

Die Japannese miljardêr Yusaku Maezawa (Foto: Yusaku Maezawa /Twitter)

Die Japannese miljardêr Yusaku Maezawa het Woensdag gesê hy het die Amerikaanse tegnologiereus Meta en sy eenheid in Japan gedagvaar oor die gebruik van sy naam en foto in bedrieglike beleggingsadvertensies op dié platforms.

Aanlyn bedrieërs gebruik Maezawa se naam en foto sonder sy toestemming om slagoffers te lok. Een advertensie met sy foto lui: “Ek het met 10 000 jen begin. Ek het 1,3 miljoen jen in vier dae gemaak.”

Aanlyn slenters op Facebook en ander sosialemediakanale het verlede jaar in Japan tot 27,8 miljard jen se verliese gelei, aldus die nasionale polisieagentskap.

Maezawa, stigter van Japan se grootste aanlyn klerehandelaar, het Woensdag op X (Twitter) gesê dat Meta “geen poging aanwend” om stappe te doen teen die ongemagtigde gebruik van sy foto en naam nie.

“Ek hoop om duidelikheid te kry of hul optrede wettig is of nie,” het hy gesê en bygevoeg dat hy 1 jen se skadevergoeding van Meta eis. “As hulle onwettig opgetree het, sal dit makliker wees vir slagoffers van bedrog om vergoeding te eis. Dit sal ʼn groot stap vorentoe wees om bedrog te voorkom.”

Maezawa het internasionaal bekendheid verwerf toe hy betaal het om maan toe te gaan op ʼn toekomstige ekspedisie deur Elon Musk se SpaceX. Hy het vantevore al die Japannese regering gemaan om op te tree teen slenters.

Volgens die openbare uitsaaier NHK werk Japan se regerende liberale demokratiese party aan planne om aanlyn beleggingslenters hok te slaan wat bekendes se profiele misbruik.

Vier slagoffers in Japan het Facebook verlede maand gedagvaar toe hulle deur advertensies om die bos gelei is wat foto’s van bekendes sonder hul toestemming gebruik het. Die klaers het gesê hulle is mislei deur die advertensies op Facebook wat ʼn hoë beleggingsopbrengs belowe het met foto’s van welgestelde bekendes soos Maezawa.

Plaaslike media in Japan het vroeër vandeesmaand ook berig dat ʼn man in sy 70’s uit ʼn bedrag van $1,4 miljoen bedrieg is met ʼn aanlyn beleggingslenter wat ʼn ander miljardêr se foto gebruik het.

NHK het ook berig oor ʼn geval waar ʼn vals stem van ʼn bekende ekonomiese analis gebruik is om aanlyn gebruikers te bedrieg.

  • Maroela Media moet ook gereeld sy lesers waarsku om nie mislei te word deur enige beleggingslenter wat ons naam en grafika valslik gebruik nie. Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie ·

Hoe se hulle: “A fool and his money is soon parted.”

Aai ·

Dit gebeur met almal elke dag vat hulle aan Mnr.Yusaka dat hulle dit stop ook moeg vir dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.