Sakeman skenk 100 miljoen euro om Notre Dame te herstel

François-Henri Pinault, voorsitter en uitvoerende hoof van Kering, en sy vrou, Salma Hayek. (Foto: Instagram)

François-Henri Pinault, voorsitter en uitvoerende hoof van Kering, die Franse luukshedegroep agter handelsmerke soos Gucci, Balenciaga en Yves Saint Laurent, het €100 miljoen (sowat R1,58 miljard) bewillig om te help om die Notre Dame-katedraal te herbou.

Pinault, wat getroud is met die bekende aktrise Salma Hayek, sê in ʼn verklaring hy sal dié geld deur sy familie se beleggingsfirma, Artemis, skenk vir enige werk wat gedoen moet word om die geskiedkundige katedraal te herstel nadat groot dele van die gebou Maandag in ʼn brand verwoes is.

“In die lig van hierdie tragedie hoop almal om so gou as moontlik weer lewe te blaas in hierdie juweel van ons nalatenskap,” het Pinault in ʼn verklaring aan AFP gesê.

Maroela Media het vroeër berig ʼn brand het Maandag by die Notre Dame-katedraal in die hartjie van Parys ontstaan. Brandbestryders het langer as agt uur gespook om die vlamme onder beheer te kry. Hoewel die presiese oorsaak van die brand nog nie bekend is nie, word daar vermoed dat dit met grootskaalse herstelwerk verband hou wat by die katedraal aan die gang was.

Die Notre Dame-katedraal Dinsdagoggend (16 April 2019) ná die brand. (Foto: AP Photo/Kamil Zihnioglu)

ʼn Woordvoerder van die plaaslike brandweer het Dinsdagoggend bevestig die brand is onder beheer en is grootliks geblus. Hy het gesê daar is wel smeulende plekke wat brandbestryders nog besig is om te blus.

Jean-Claude Gallet, die brandweerhoof, het gesê ongeveer 500 brandbestryders het gespook om te verhoed dat een van die ikoniese kloktorings ineenstort. Daar kon daarin geslaag word om die katedraal se hoofstruktuur en die twee torings te red. Die katedraal se dakstruktuur, wat dateer van die 13e eeu, en die kenmerkende Gotiese spitstoring het egter in die slag gebly.

Verskeie artefakte wat van onskatbare waarde is kon ook uit die vlamme gered word, insluitend die heilige kroon. Dié reliek, ʼn gevlegte doringkroon wat deur gouddraad bymekaar gehou word, word wyd geglo is die kroon wat op Jesus se kop geplaas is toe hy gekruisig is. Dit word gesien as een van die katedraal se waardevolste en mees vereerde relieke.

ʼn Mantel wat koning Louis IX glo gedra het toe hy die doringkroon na Parys gebring het, is ook uit die brand gered.

Die Notre Dame-katedraal in ligte laaie. (Foto: AFP)

“Ons het ʼn ketting van solidariteit gehad, veral om die kunswerke te red. Dit kon gered word en word tans op ʼn veilige plek bewaar,” het Anne Hidalgo, burgemeester van Parys, gesê.

Die Notre Dame-katedraal is op Île de la Cité, ʼn eiland in die Seine-rivier, gebou. Dit is sedert 1979 deel van ʼn groter Unesco-wêrelderfenisgebied wat die rivier se oewers en verskeie historiese brûe insluit.

Bouwerk aan die katedraal het in 1163 onder biskop Maurice de Sully begin. Die katedraal is 127 m lank, 40 m wyd en 33 m hoog. Dit is in 1793 gedurende die Franse Rewolusie geplunder en het in die middel-1800’s grootskaalse restourasie ondergaan.

Die katedraal het ook ʼn stewige plek in die literatuur danksy Victor Hugo se beroemde 1831-roman, Notre-Dame de Paris, in vertaling ook bekend as The Hunchback of Notre Dame.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

koba ·

imagine net as almal so kon saamstaan om ons boere en land te kan herstel,
ons soek nie geld nie, ons soek net ‘n ander regering wat regverdig is.
dis darm groothartig van die billionaires om hulle miljoene so te gee vir ‘n kerk
jammer soveel mense en veral kinders het dit nodig vir oorlewing

Susan ·

Baie jammer inderdaad. Geboue is blykbaar meer belangrik as mense wat nie kos of blyplek het nie. Dink net aan hoeveel mense en diere hulle kon help met daardie hoeveelheid geld!

Annie Webb ·

Te betwyfel of dit “met die restourasiewerk verband hou”. Die linkse hoofstroommedia in Europa verswyg dit soos hulle alle ander negatiewe nuus oor die vandalisme en geweld van die migrante in Europa verswyg, maar daar is voortdurend vandalisme van Christelike kerke in Europa. Ek laai die skakels op my eie Facebookblad as enigiemand belangstel.

Nettie ·

@Susan, gegewe die huidige ekonomiese klimaat en die feit dat die blanke MINDERHEIDSgroep in SA die oorgrote swart MEERDERHEIDSgroep finansieël dra deur SASSA-geld, belastingbetaling, donasies en ander fisiese skenkings, wil ek sê: BASTA met MENSE wat gehelp kon word deur daardie skenkings. Ek skenk 10 000 keer eerder iets om DIERE en GEBOUE te help, as om mense te help. Net vanoggend is die “stank-vir-dank-is-wêreldsloon”-begrip aan my wéér bewys nadat ek ‘n donasie gemaak het aan ‘n welsynsorganisasie, wat my bure se hondjie gered het nadat dit a.g.v. hulle nalatigheid raakgery is: toe word ek op sosiale media aangeval deur my bure en van allerlei goed beskuldig.

So daarom sê ek nou: BASTA met skenkings en goed-doen aan my mede-mens; van voortaan kry net DIERE iets van my.

Logika ·

Duidelik verstaan jy nie dat dit nie net ‘n gebou is nie.

GM ·

Hoe lekker moet dit nie wees om miljarde te kan uitdeel en dit nie eers aan jou sak te voel nie! *Droom ek nou van ‘n huisie by die see* :-)

Avra ·

Hoe wonderlik is dit nie! Absoluut onbeskryflik om daardie gebou te besoek. Die mense is so trots op hul verlede. Hier kan hul nie eers die Joodse kerk waar Mandela verhoor en gevonnis is (nou n geskiekundige gebou) in stand hou nie. Alles waarvan hul in RSA nie van hou, brand hul af.

Alida ·

Skenkings in SA werk nie. Hulle brand net weer die gebou af en die geld bereik nooit waar dit hoort nie.

Jannie ·

Sovêr ek kan vasstel, is dit reeds die tiende ‘kerk’ in Feankryk wat in die afgelope weke onverklaarbaar aan die brand geraak het!
VADER IS BESIG OM DIE AFGODSTEMPELS TE VERNIETIG!!!

Koos ·

Aanbid eerder die Jesus wat die doringkroon gedrag het, as die doringkroon self.

Andre ·

Fantastiese skenkings !, gelukkig kan hierdie welgestelde families self besluit hoe hul hul eie geld kan aanwend.

JD ·

Dit bly net n gebou ! Ek stem, hoeveel diere en kinders kon nie hierby baat nie!

Wildeboer ·

Sal my nie verbaas indien dit die werk van terroriste is nie.

Merkur ·

Stem saam met Annie Webb en Wildeboer. As dit brandstigting was, sal sekerlik daaroor geswyg word. Sal nie verbaas wees as bv ´n „geradikaliseerde“ konstruksiewerker hand bygesit het nie. ´n Gemiddeld van twee kerke per dag in Frankryk loop onder vandalisme deur. In Italië en Duitsland is dit ook erg. Daar word vermoed dat alhoewel die meeste beskadigings deur Mohamedane veroorsaak word, ook mense uit Afrika en selfs links extremiste en sataniste daarvoor verantwoordelik is. In 2018 is Katolieke Kerke en Simbole in Frankryk 1063 keer beskadig. (100 Moskees en Sinagoges is beskadig.)

Joodse grafte en Sinagoges word al hoe meer ook deur links extremiste gevandaliseer.
In ´n bevraging of meningspyling onder Jode in Europa was die resultaat: die meeste Jode sien as grootste gevaar die Islam, dan links-extremisme en as derde grootste gevaar, regs-extremisme.

Merkur ·

Ek trek my sin oor moontlike „geradikaliseerde“ konstruksiewerkers terug. Dis uiters spekulatief en plaas alle konstruksiewerkers onder verdag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.