Sakevrou se kuns teen rekordpryse opgeveil

’n Vrou kyk na Pablo Picasso se beeld, “Tete de Femme” by die Christie’s-veilinghuis in New York. (Angela Weiss / AFP)

’n Nagemaakte beeldhouwerk van die Franse kunstenaar Edgar Degas se bekende brons ballerina is Donderdag teen ’n yslike bedrag van $41,6 miljoen (byna R667 miljoen) by die Christie’s-veiling in New York opgeveil.

’n Bronsfiguur deur Pablo Picasso het ook ’n rekord by dié veiling in die VSA laat spat.

Die Degas-beeldhouwerk, Petite danseuse de quatorze ans, is ’n delikate bronsbeeld met ’n bruin patina wat ’n jong ballerina uitbeeld. Sy het ’n moeselienromp aan met ’n lint in haar hare.

Die kunstenaar Adrien-Aurelien Hebrard het ’n afgietsel van dié beeld tien jaar ná Degas se dood in 1917 gemaak. Die oorspronklike stuk is by die Nasionale Kunsgalery in Washington te sien.

Die Hebrard-beeld, oorspronklik ofte nie, het ’n nuwe rekord vir Degas beteken. ’n Ander weergawe van die beeld is in 2015 vir 22,2 miljoen euro opgeveil. Dit was destyds sowat R308 miljoen werd.

Die beeldhouwerk wat Donderdag verkoop is, was een van 12 stukke uit ’n versameling van Anne Bass, ’n Amerikaanse sakevrou wat in 2020 gesterf het.

Sy was die beskermheer van verskeie groot Amerikaanse museums, asook New York-ballet. Bass was die vrou van die miljardêr en olie-erfgenaam, Sid Bass.

Onder haar versameling was twee skilderye deur die Amerikaanse ekspressionis Marc Rothko, waarvan Untitled (Shades of red) vir $66,8 miljoen (meer as R1 miljard) verkoop is, en drie werke deur Claude Monet.

Monet se Parlement, soleil couchant is vir $75,96 miljoen (meer as R1,2 miljard) verkoop.

Christie’s het ook aangekondig dat Picasso se Tete de femme (Fernande) teen $48,48 miljoen die kunstenaar se duurste bronsfiguur geword het wat nog ooit op ’n veiling verkoop is.

Die Spanjaard het die rekord vir die duurste werk van 20ste-eeuse kunswerke wat ooit op ’n veiling verkoop is, tot Maandagaand gehou.

Maroela Media het vroeër berig dat Andy Warhol se Shot Sage Blue Marilyn-skildery van Marilyn Monroe Maandag vir $195 miljoen (sowat R3 miljard) by dieselfde veilinghuis opgeveil is. Dit is die duurste kunswerk in die styl van 20ste-eeuse kuns wat nog ooit verkoop is.

Picasso se Les Femmes d’Alger (weergawe ‘0’) het voorheen die rekord op $179,4 miljoen (meer as R2,8 miljard) in 2015 opgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Burgermeester ·

My mens, my kind, my kroon … maar dit is baie geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.