Saksofoonspeler, stigterslid van UB40 (62) sterf

Brian Travers van UB40. (Foto: Twitter)

Brian Travers, saksofoonspeler en liedjieskrywer vir die reggae-groep UB40, is in die ouderdom van 62 dood.

Sy orkesmaats sê hulle is “platgeslaan” deur die nuus oor die dood van hul “kameraad, broer, stigterslid van UB40 en musikale legende”.

Travers het “ʼn lang en brawe stryd teen kanker” gevoer.

In 2019 het hy ʼn operasie ondergaan om twee breingewasse te verwyder en het glo nog ʼn operasie vroeër vanjaar ondergaan.

Travers het ʼn groot rol in die orkes gespeel as saksofoonspeler, verwerker en liriekskrywer.

Die groep, van Birmingham in Engeland, het in 1980 sukses behaal met Food for thought, sy eerste top-10-treffer in Brittanje. Treffers soos “I think it’s going to rain today”, “One in ten”, “Red red wine” en “I got you babe” het gevolg.

Hulle het altesaam 39 top-40-treffers in Brittanje gehad, asook 28 albums wat meer as 100 miljoen kopieë wêreldwyd verkoop het.

Travers het die groep in die laat 1970’s saam met skoolvriende gestig. Groot werkloosheid in die stad – en die naam van die amptelike vorm wat mense destyds moes invul om vir toelae te kwalifiseer, Unemployment Benefit, Form 40 – het aan die groep sy naam verleen.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karinb ·

Hartseer nuus. Dink aan Brian Travers se mense. Hy sal voortleef in UB40 se musiek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.